Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee

Die Algemene Sinode se besluite oor homoseksualiteit
Geplaas deur Danie Vermaak op 12-11-15

Slefdegeslag Verhoudinge

Die Algemene Sinode van 2004 besluit soos volg:

HOMOSEKSUALITEIT

3.1  Dit is die roeping van die kerk om die evangelie van Jesus Christus in alle omstandighede en aan alle mense te bring.  Daarom is dit die kerk se taak om die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val sodat die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus ook met betrekking tot hierdie aspek van die lewe tuisgebring kan word.

3.2  Dit is ook die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebrokenheid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan.  In die lig hiervan vra die Algemene Sinode verskoning aan alle homoseksueles en hulle families, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seergemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kan word nie.

3.3  Die Sinode is diep geraak deur die pyn en lyding, verwerping en eensaamheid van persone wat op een of ander wyse met die werklikheid van homoseksualiteit gekonfronteer is. Daarom onderneem ons om met mekaar saam op weg te gaan, deur:

  • in liefde mense te ondersteun op persoonlike vlak en die nodige ondersteuningsisteme daar te stel op alle vlakke;
  • met die middele tot ons beskikking die nodige pastorale begeleiding te verskaf, as daar ’n behoefte is;
  • saam te besin oor wat ’n Bybels-gefundeerde pastorale model is om homoseksuele persone te versorg.

3.4 Die Sinode erken dat daar in die kerk verskil-lende vertolkings is van die beskikbare Skrifgege-wens oor homoseksualiteit.  Ons onderneem om die gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit met die oog daarop om die kerk en ons lidmate op die mees verantwoordelike manier te dien.

3.5  Volgens ons verstaan van die Skrif kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou word. (Handelinge, Algemene Sinode 2002: 624 12:11 punt 2.)

3.6  In aansluiting by die Algemene Sinode van 2002 bevestig die Sinode dat sowel heterosek-suele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

3.7  Die Sinode is daarvan oortuig dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en dat hulle op grond van hulle doop as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar behoort te word.  Dit is ons oortuiging dat ons alle mense se getuienis oor hulle geloof en toewyding, sowel as oor hulle seksuele oriëntasie, ernstig moet opneem en hulle integriteit moet aanvaar.

Hierdie besluit vervang die vorige besluit van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit en word nou die amptelike standpunt van die NG Kerk.

Die Algemene Sinode van 2007 besluit soos volg:

  1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelwaardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop  en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou kan word.
  5. Die Algemene Sinode bevestig  ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
  7. Die verlening  van predikantsbevoegdheid is ‘n funksie van die Algemene Sinode. Die   sinode besluit dat homoseksuele  gelegitimeerdes wat ‘n selibate lewenstyl beoefen, tot die predikantsamp toegelaat word.
  8. Die AS erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

 (Die Algemene Sinode het besluit dat hierdie 8 punte as eenheid gelees en verstaan moet word.)

Interpretasie van die besluit

Prof Strauss verduidelik dat as daar in pt 8 van die betrokke besluit gepraat word van die diskresie van kerkrade, dan word daarmee nie gesê dat kerkrade die hele vraag of vraagstuk van voor af in behandeling neem en op hulle eie hanteer, heeltemal los van die Algemene Sinode se besluite nie.  Pte 1-7 van die betrokke besluit bind die hele kerkverband want dit is die uitspraak van die Algemene Sinode.

Kerkrade moet weet dat wat die Algemene Sinode aanbetref, is die huwelik net vir ’n man en ’n vrou.  Homoseksuele verbintenisse buite die huwelik om of homoseksuele huwelike buite die huwelik om kan nie in die plek van die huwelik kom staan nie.  Die Algemene Sinode eer die huwelik en dit staan baie vas.  Daar is ook besluit dat promiskuïteit, losbandigheid, in beide homoseksuele en heteroseksuele verbintenisse, vir hierdie Sinode totaal onaanvaarbaar is.

As ’n Kerkraad sy diskresie uitoefen, dan is dit in die lig van punte 1 tot 7 van die betrokke besluit.  Dit hang daarmee saam.  Dit was baie duidelik gesê en dit word hier weer onderstreep.
Dit gaan hier om Kerkrade wat in ’n gees van Christelike liefde die verskille in die gemeente hanteer.  Met ander woorde: binne hierdie raamwerk moet Kerkrade optree in ’n gees van Christelike liefde.  Daarmee word eintlik gesê dat die NG Kerk haarself in ’n fase bevind waarin die kerk hierdie verskille met liefde wil hanteer.  Dit is ’n baie gesonde Bybelse uitgangspunt.  Kerkrade word dus hierdeur versoek om die plaaslike verskille in liefde te hanteer.  Hierdie verskille moet egter binne die bepaalde raamwerk, soos geformuleer in pte 1 – 7 van die besluit, hanteer word.
Prof Strauss verduidelik ook dat dit nog altyd so was dat indien ’n Algemene Sinode nie ’n besluit oor ’n sekere saak geneem het nie, dan het ’n sinode, ’n ring en/of ’n kerkraad nog altyd die Woord en die Belydenis op grond waarvan hulle sake kan hanteer, byvoorbeeld tugsake.  Hy verwys na KO Art 59 wat leiding bied oor wanneer ’n tugwaardige saak ontstaan.

Wat die besluit en saak onder bespreking betref, het die Algemene Sinode hom uitgespreek oor die saak en 8 pte geformuleer as ons besluit hieroor.  Pte 1-7 is die raamwerk en pt 8 is as’t ware ’n beroep op kerkrade om aan hulle te sê dat wanneer hierdie sake hanteer word, moet dit in Christelike liefde gedoen word, binne hulle diskresie en aan die hand van Woord en Belydenis.
Prof Strauss beklemtoon dat elke kerkvergadering optree op grond van die gesag wat deur Christus aan hom verleen is.  Met ander woorde: daardie vergadering moet aan die hand van die Woord optree met betrekking tot die sake wat op sy terrein lê.  As hy aan die hand van die Woord optree, is dit op gesag van die Here Jesus.
Waar die Algemene Sinode reeds besluite geneem het oor ’n saak, moet die besluite van die betrokke ander vergadering binne die raamwerk van die besluite van die Algemene Sinode geneem word.
Die besluit wat die Algemene Sinode oor homoseksualiteit geneem het, moet dus reg verstaan word: pte 1 tot 7 van die besluit staan vas en die diskresie in pt 8 word uitgeoefen in die lig van pte 1-7.

Die 16de vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk het op Vrydag 9 Oktober 2015 soos volg besluit:

  1. Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.
  2. Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
  3. Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou word.
  4. Die Algemene Sinode besluit om in die lig van pt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
  5. Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone.  Punt 7 van die besluit van 2007 verval.
  6. Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.
  7. Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van Christlike liefde te doen.
  8. Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinoge van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.
  9. Die Algemene Sinode besluit om ʼn Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite.  Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ʼn soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.
  10. Die Algemene Sinode besluit om ʼn bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.

 Die Algemene Sinode het verder besluit:

  1. Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangestas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.
  2. Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.

Die Algemene Sinode het verder besluit:

  1. Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte op om die kerkregtelike- en regsimplikasies van enige besluit(e) insake selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die Algemene Sinodale Moderamen.
  2. Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule 5 wat soos volg lees: Designation of ministers of religion and other persons attached to religious denomination organisation as marriage officers:  (1) Any religious denomination or organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).

Die Algemene Sinode het verder besluit:

  1. Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees  “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.
  2. Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.


Lug 'n opinie