Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee

Brief van ds Dirkie van der Spuy aan die gemeentes
Geplaas deur Sonya Snyders op 04-12-15

NG Kerk Logo

Na afloop van die vergadering van die Sinodale Diensraad van die Oostelike Sinode, skryf ons Voorsitter, Dirkie van der Spuy, soos volg:

Ons het Donderdag 27 November vergader en uitvoerig aandag aan die skrywes van die gemeentes en ringe in ons gebied gegee.  Ons het kennis geneem van die ontsteltenis en ongelukkigheid oor die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings.  Ons is jammer dat hierdie besluit so skielik gekom het oor ’n saak waaroor lidmate baie sterk voel.

Ons stuur binnekort aan ons gemeentes ’n samevatting van die kommentaar wat ons ontvang het, wat sal bevestig dat ons duidelik daarvan kennis geneem het.

Aangesien die implementering van die 2015 besluit nou opgeskort is, geld slegs die vorige besluite wat die Algemene Sinode hieroor geneem het.

Uit die regsadvies wat gekry is, is dit duidelik dat ons as Sinodale Diensraad/Sinode nie nou ’n besluit moet neem oor die selfdegeslagverhouding-besluit van die Algemene Sinode nie, omdat dit dan vir ons as Sinode sou prejudiseer, sodat ons nie aan die gesprek en besluite oor die appèlle sou kon deelneem nie.  Gemeentes en ringe is egter vry om besluite hieroor te neem en op ’n kerkordelike wyse hulle ontevredenheid of eie standpunte uit te spreek deur beswaarskrifte of appèlle aan die Algemene Sinode.  Daar moet binne 21 dae na die verskyning van die Handelinge van die Algemene Sinode van sulke besware kennis gegee word.  Die Handelinge word op die Algemene Sinode se webwerf gepubliseer en gemeentes word daarvan ingelig.

Die Sinodale Diensraad het bevestig dat hulle steeds staan by die inhoud van hulle beskrywingspunt aan die Algemene Sinode.  Dit was soos volg:

Die Algemene Sinode besluit om te volstaan met die besluite van 2007 oor homoseksualiteit en van 2011 (soos gewysig in 2013) oor die huwelik.  Die Algemene Sinode oordeel dat hierdie besluite die Bybelse siening hieroor genoegsaam verwoord en ook ruimte laat vir die diversiteit wat daar in die NG Kerk hieroor bestaan.  Die motivering vir die beskrywingspunt verskyn aan die einde van hierdie brief.*

Daar word twee geleenthede beplan in Pretoria en Middelburg vir kerkleiers ter wille van verdere inligting en gesprek.  Tydens hierdie geleenthede word die volgende sake aangespreek:

Een:      Die kerkregtelike implikasies van die besluite, sowel as die appèlle.

Twee:   Die kommentaar oor die besluite, wat reeds gelewer is.

Drie:   Voorstelle wat die Sinodale Diensraad reeds oor die toekomstige funksionering van die Algemene Sinode bespreek het.

Ons wil mekaar as familie in Christus steeds vashou en die diversiteit in die kerk respekteer. Daarom bid ons vir mekaar en vertrou dat die lig en vrede van God ons duidelik sal lei op die pad vorentoe.

Mag die Lig wat in die duisternis skyn, ook in hierdie Kerstyd ons eie harte en almal om ons verlig.

Dirkie van der Spuy

* Besluite van die Algemene Sinode en motivering vir die Sinodale Diensraad se beskrywingspunt:

2007:    (Homoseksualiteit) Die Algemene Sinode besluit soos volg

Een:      Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreter.

Twee:   Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word.  Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges.  Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.

Drie:     Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar.  Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

Vier:     Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.

Vyf:       Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

Ses:       Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

Sewe:    Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode.  Die Algemene Sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ʼn selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

Agt:       Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

2013:    (Die huwelik) Die Algemene Sinode besluit soos volg

Een:      Die Algemene Sinode probeer om tans die volgende perspektiewe ten opsigte van saamwoonverhoudings te stel in die besef dat dit saamhang met omvattende sake soos die huwelik, egskeiding en seksuele etiek van gelowiges, wat deurlopend met deernis en sensitiwiteit deur die kerk onderskei en begelei moet word. Die verskillende punte hieronder moet daarom deurgaans met mekaar in verband gelees word.

Twee:   Die Algemene Sinode besef dat die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is.  Daarom kan sommige huweliksgebruike soos in die Bybel beskryf, byvoorbeeld leviraatshuwelike en die vrou as besitting van die man, nie sonder meer dien as riglyne vir hoe Christelike huwelike vandag behoort te wees nie.

Drie:     Die Algemene Sinode is daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ‘n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.

Vier:     Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

Vyf:       Die Algemene Sinode is daarvan bewus dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit) vandag ʼn werklikheid in die samelewing is.  Daar is verskillende redes waarom mense saamwoon.  Sommige mense woon saam omdat hulle seksuele eksklusiwiteit nie as ’n belangrike aspek van ’n verhouding beskou nie.  Hierdie verhoudings is weens die nie-permanente en selfsugtige aard daarvan, eties onaanvaarbaar.

Ses:       Die Algemene Sinode is egter bewus daarvan dat daar ander redes is waarom sommige pare saamwoon.  Sommige woon saam met die argument dat hulle seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, voordat hulle trou.  Van hierdie verhoudings streef in sekere opsigte na die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit.  Tog is dit minder as wat die Christelike verstaan van die huwelik verwag en word daarom ontmoedig (soos gewysig deur Tydelike Taakspan Leerstellige en Aktuele Sake).

Sewe:    Die Algemene Sinode wil mense wat in ‘n saamwoonverhouding leef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte in plek te kry.

Agt:       Die Algemene Sinode beskou die reëlings van mediese fondse en pensioenskemas wat voordele van mense ontneem wanneer hulle na die dood van ’n eggenoot/eggenote weer in die huwelik tree, as eties problematies en onderneem om nogeens met die betrokke owerhede hieroor in gesprek te tree.

Nege:    Die Algemene Sinode aanvaar dat al die implikasies rondom die bevestiging van ’n enkel kerklike huweliksverbintenis nog nie uitgeklaar is nie en is daarom op hierdie stadium nie ten gunste van so ’n reëling nie.

Motivering vir die Sinodale Diensraad se beskrywingspunt:

Die saak waaroor dit in die prosesvoorstel gaan, is die status van selfdegeslagverhoudinge, en die wese van hierdie gesprek gaan oor die status van siviele verbintenisse tussen homoseksuele persone.

Die Bybelse siening van die huwelik is duidelik verwoord in die besluite van die Algemene Sinode van 2011 soos gewysig in 2013:

Die Algemene Sinode is (nogtans) daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.

Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

Daar bestaan egter groot diversiteit van sienings in die NG Kerk ten opsigte van die wyse waarop die verbintenis tussen homoseksuele persone prakties hanteer moet word.  Hierdie diversiteit is die resultaat van verskillende hermeutiese uitgangspunte en daarom is dit tans onmoontlik om die verskillende sienings met mekaar te harmonieer:

Een:      Baie lidmate (ons vermoed die meeste, volgens ons vorige sinodale opname in 2005) sê ’n duidelike nee vir homoseksuele huwelike.

Twee:   Daar is ook lidmate wat glo dat die Bybelse prentjie dat heteroseksuele huwelike die enigste vorm van ’n huwelik is, bepaal is deur die kultuur van die tyd waarin die Bybel geskryf is en dat dit daarom nie as ’n universele voorskrif kan geld nie.

Drie:     Nog ’n groep is oortuig dat die Bybelse siening oor homoseksualiteit nie so klinkklaar is nie en ruimte laat vir verskillende maniere van interpretasie.

Vier:     Nog ’n groep lidmate hou vas aan die norm van heteroseksualiteit as die enigste Bybelse prent van die huwelik, maar het tog waardering vir homoseksuele gelowiges wat in hulle vaste verbintenisse so naby as moontlik aan die Bybelse norme wil beweeg.

Die Sinodale Diensraad van die Oostelike Sinode is deeglik bewus van hierdie diversiteit ook binne ons eie Sinode en is van mening dat die Algemene Sinode se huidige besluite hierdie diversiteit genoegsaam akkommodeer.


Lug 'n opinie