Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee

Verklaring oor rassisme
Geplaas deur Sonya Snyders op 01-02-16

http://www.ngelarduspark.org.za/wp-content/uploads/2016/02/Rasisme.jpg

Rassisme

Rassisme steek oral in ons samelewing kop uit. Ons kan ander daarvoor blameer, die
verlede, die politici, die winsmakers en die maghebbers, die opposisie en diegene wat
óns tot vyand wil maak, maar die werklikheid is dat rassisme sonde is. Nie omdat ‘n
politieke party so sê of mense probeer munt slaan uit gebeure in ons samelewing nie,
maar omdat dit in stryd is met die Evangelie. Rassisme neem baie gestaltes aan, maar
in die kern daarvan lê daar meerderwaardigheid, dus die minagting van mense net
omdat hulle aan ‘n bepaalde ras behoort, vooroordeel, veralgemenende aannames,
disrespek, onbegrip, afguns, misbruik en vernedering. Rassisme kan dus ‘n denk- en
leefwyse wees wat by mense van alle rasse voorkom en gekoester word.
Daarteenoor leer die Evangelie dat God vir alle mense lief is. Alle mense is na die
beeld van God geskape. Trouens, Jesus verban reeds in die Bergrede alle
meerderwaardigheid tot buite die grense van sy Koninkryk. Hy leer dan met sy
gelykenisse, wonders, voorbeeld en lyding dat respek, deernis, luister en omgee oor
grense heen, die styl en waardes van Sy koninkryk is. Daar is géén plek vir rassisme
in die koninkryk van Jesus nie.

Die kuns van die lewe in Suid-Afrika is egter om te onthou dat meerderwaardigheid
goeie vriende het in die eie-ek, in die persoonlike kyk op sake, op die enkelvoudige
perspektief, op die eie voordeel en die drang na selfbehoud. Met sulke vriende moet
‘n mens maar te versigtig wees dat meerderwaardigheid, in watter vorm ookal, nie
sommer by die voordeur van jou lewenshuis instap nie. Of dit nou chauvinisme of
patriargie genoem word, of manlike dominansie, of minagting en afsydigheid en
neusoptrek vir siekes en gestremdes, of homofobie of rassisme, meerderwaardigheid
skuil dig by al ons vroomheid en goeie voornemens.

Ons kan natuurlik altyd meerderwaardigheid probeer verduidelik. Of ons kan dit
versag. Ons sou bv. kon verduidelik dat ons bedoelinge defnitief nie
meerderwaardigheid of aftakeling of miskenning of verontregting is nie. Maar die
standaard van die lewe in die Koninkryk, ‘n lewe in noue verbondenheid met Jesus, is
nie net om jou bedoelinge te beoordeel nie, maar veral die impak van jou woorde en
dade en aannames en vooroordele op die selfverstaan van ander. “Ek” en my
bedoelinge is as maatstaf altyd ondergeskik aan die ervaring en belewenis van my
naaste, hoe die ander voel, wat hulle van hulleself glo, wat hulle van hulleself verstaan
wanneer ons van mekaar weggaan.

Die Suid-Afrikaanse samelewing word grootliks gekenmerk deur ongelykheid. Die
gaping tussen ryk en arm word al groter. Die feit dat die politieke hervormings van die
afgelope dekades vir swart mense toegang verleen het tot die beste geleenthede,
vertel nie die hele verhaal van die stryd van mense om uit kulture van armoede en
ongeletterdheid uit te breek nie. Kinders wat bv. in armoede grootgeword het, se kanse
om toegang te verkry tot verdere opleiding en uiteindelik ‘n werk met ‘n volhoubare
inkomste wat hulle uit die armoede kultuur lig, is steeds baie laag. Die
werkloosheidsyfer vir swart Suid-Afrikaners is ook tans 28,8%. Baie van diegene wat
wel werk het, se inkomste verseker nie noodwendig ‘n lewe bo die broodlyn nie.
Wit Suid-Afrikaners sal vanweë die land se politieke geskiedenis, asook die
ongelykheidsfaktore baie begrip aan die dag moet lê vir swart mense se sensitiwiteit
oor rassisme. Wat vir wit mense na die verdediging van belangrike beginsels klink,
klink al te dikwels vir mense wat uit ‘n agtergrond van armoede en verontregting kom
na vooroordeel en miskenning.

Die belangrikste werklikheid is egter dat die stryd om bronne in Suid-Afrika dikwels
manifesteer in rassespanning. Die ekonomie groei stadiger as die bevolking.
Investering uit die buiteland is laag. Die verdeling van rykdom kan gevolglik meestal
slegs geskied deur weg te neem van die wat het en dit te gee vir die wat nie het nie.
Dit is in die Suid-Afrikaanse konteks ‘n resep vir rassespanning. Almal, insluitende die
regering, is dit eens dat opleiding ‘n baie belangrike deel moet uitmaak van die
oplossing van die sistemiese ongelykhede van ons ekonomie. Opleiding genereer
interpreneurs en laasgenoemde skep werk. Maar ons land voorsien tans eenvoudig
nie in genoeg opleidingsgeleenthede nie. Gevolglik word daar meer en meer eise
gestel aan die beperkte opleidingsgeleenthede wat wel in Suid-Afrika bestaan. Die
gebrekkige geleenthede aan vaardigheidsopleiding vergroot die druk op tersiêre
instellings. Die mededinging om die bronne van kennis raak dus by die dag groter. Die
stryd om studentefooie is inderwaarheid ‘n stryd om toegang tot die bron. Op vele
terreine van die samelewing word soortgelyke spanning as gevolg van mense se
regmatige aspirasies beleef.

Christene is geroep om in hierdie dae ‘n voorbeeld te stel van verdraagsaamheid en
goeie oordeel wanneer dit kom by die belange van die totale bevolking van die land.
Transformasie van die ekonomie is ‘n verpligting wat op almal van ons rus met die oog
op die voordeel van almal. As een ly, ly almal, sê die Evangelie. Dit geld net soveel
van die land as van die kerk. Laat ons daarom met groot begrip vir die storie van ons
land en vir die nood van mense en vir die strewe van mense na ekonomiese
selfstandigheid met mekaar omgaan. Laat ons na mekaar luister met begrip en
deernis. Laat ons mekaar hoor en help, hande neem en mekaar se belange najaag.
Laat ons wegdeins van veralgemenings sonder om regtig te probeer verstaan wat
agter mense se protes en aandrang om gehoor te word, lê. Laat ons, die Christene,
die draers wees van die boodskap van geregtigheid, dienende liefde en sorg. Mag ons
só die mense wees wat mense se waardigheid herstel en hulle vry maak van die kragte
van armoede of minagting en selftwyfel.

Die NG Kerk is so ernstig oor mense se menswaardigheid dat ons saam met ons
familiekerke ‘n Seisoen van Menswaardigheid bedink het. Die waardes wat veral
deur die Seisoen bevorder word, is respekteer, luister, omarming en liefhê.
In Kerk en Samelewing (1990, par 110-115) het die NG Kerk reeds helder gewaarsku
teen die gevolge van rassisme. Dit is strydig met die Woord van God en geen mens
behoort dit te verdedig of beoefen nie. Sedert 1990 het die NG Kerk gereeld publieke
getuienisse gelewer teen rassisme. Kerkbode en Kruisgewys is onder meer benut om
die stryd teen rassisme te voer. Talle ander publikasies het ook verskyn. Vir ‘n lys van
publikasies kan jy gerus die Seisoen van Menswaardigheid se webblad by
www.menswaardigheid.co.za besoek. Predikante laat val ook gereeld die lig van die
Woord deur die prediking op die onderwerp. Die Moderamen het ook in 2008 ‘n
ernstige beroep om almal gedoen om hierdie euwel te beveg. Tog is dit duidelik dat
daar nog in al ons gemeenskappe baie werk is om te doen om hiermee verder te
vorder.

Die Seisoen van Menswaardigheid help onder meer deur ‘n publikasie vol Jesusverhale
wat geestelike leiding bied. Daar is ook ‘n publikasie “Stap Saam” oppad wat
‘n 15 weke program is waarin mense van verskillende agtergronde na mekaar luister
en saam die wonders van verskeidenheid in ons kulture en voorkeure ontdek. Die
publikasies verskyn eersdaags by Bybel-Media. Die Vrou By Die Put is nog ‘n
publikasie met Bybelstudies oor Johannes 4 waar Jesus met die Samaritaanse vrou
in gesprek gaan, wat die onderwerp toelig.
Ons vertrou dat elke leraar van ons kerk sensitief is vir die gevare van rassisme en
verstaan dat die NG Kerk ‘n reuse verantwoordelikheid het om hierdie euwel uit te
roei. Laat ons voortgaan om leiding en rigting te bied in hierdie proses van bevryding
van alle vorme van rasse vooroordeel sodat ons kerk se mense ook in hierdie opsig
waardige burgers van Suid-Afrika en bowenal van Jesus se ryk sal wees.

Nelis Janse van Rensburg
Voorsitter van die Dagbestuur van die Moderamen
Nederduitse Gereformeerde Kerk
22.01.2016


Lug 'n opinie