Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee

Bouprojek

In Elarduspark wil ons altyd trots wees op ons gemeente en haar geboue. Netjiese, moderne en doelmatige fasiliteite is deurentyd ons strewe sodat ons en ons besoekers die gevoel van egte aanbidding, maar ook gasvryheid hier kan beleef.

Ons weet dat jy veral in die erediensruimte die behoefte het om die Here se nabyheid te beleef. Hierdie soeke na God word bevredig wanneer die klank, die beligting en die dekor saamwerk om ‘n heilige ruimte te skep waar jy God kan ontmoet.

Deur die dekades heen het ons dikwels veranderinge aangebring aan ons erediensruimte om juis jou en my behoefte aan ware aanbidding beter te maak. Ons het die hemelhoë kansel afgebreek en die liturgiese ruimte het meegebring dat die prediker nader aan die lidmate is en dat meer musiekinstrumente jou en die gemeente kon help met lofprysing.

Oor jare heen het ons menige fasiliteite suksesvol verander, soos die blousaal met die kantoor bo-op, die kombuis met die koffiewinkel, die kapel met die mediasentrum en artos en oinos met die lapa.

Ons is nou weer op ‘n plek waar ons nuut wil droom oor ons aanbiddingsruimte. Daar is ‘n paar behoefte wat die afgelope jaar op die tafel gekom het.

  1. Die klanksisteem is 16 jaar oud en begin baie moeilikheid gee. Mense sukkel om te hoor en daar is dooie kolle in die gebou.
  2. Die projektors is oud en ‘n mens kan nie meer duidelik op die skerms sien nie.
  3. Die liturgiese ruimte is te klein en ons het onder andere ‘n behoefte vir ‘n permanente nagmaalstafel op die liturgiese ruimte.
  4. Die venster by die orrel is geroes en oud. Dit moet vervang word.
  5. Die ligte in die gebou is baie dof en ‘n klomp lidmate sukkel om te lees in die kerk.
  6. Die orrelspeelbank se posisionering veroorsaak dat daar ‘n klankvertraging is.
  7. Daar is ‘n behoefte dat die styl van die kerkgebou verander en opgradeer word om by die tyd aan te pas.

Sketse van nuwe plan

Ons wil hierdie behoefte aanspreek deur die volgende te doen:

  1.  Ons wil ‘n nuwe klanksisteem instaleer.
  2. Die projektors, skerms en ligte word vervang.
  3. Die liturgiese ruimte word vergroot. Die stoele wat uitgehaal word, word na die gallery bo die voordeur geskuif.
  4. Bo die liturgiese area word daar ‘n skuilplafon gebou vir die projektors en beligting en dit skep ‘n moderne en intieme gevoel.
  5. Die venster word vervang, met ‘n bypassende voordeur van glas. Dit skep ‘n meer moderne gevoel en maak die kerkgebou ligter.
  6. Die ingangsportaal en moederskamers van die kerk word opgradeer om die mense welkom te laat voel.
  7. Die orrelspeelbank verskuif na onder. Dit los die klankvertraging op en skep geleenthede vir die orrel en die orkes om saam te kan speel.
  8. Die gebou word op gegradeer met verf, matte en pleisterwerk en skep so ‘n vars nuwe gevoel waar mense God kan kom aanbid.

In ons dag het pelgrimstogte belangrik geword. Die kerkraad droom oor ‘n erediensruimte wat iets van ‘n pelgrimservaring moontlik maak. ‘n Plek waar jy vir ‘n oomblik sielerus kan vind en ‘n dieper belewenis van God kan kry.

Ons is baie opgewonde oor die moontlikheid om hierdie opgraderings te doen. Dit is egter baie belangrik dat die gemeente inkoop en saam met ons opgewonde is. Wees deel van die opgewondenheid en laai ‘n Bouprojek-debietvorm hier af.