Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee
Welkom by die gemeente wat omgee

Ons Gemeenskap

Woonbuurt Sensus telling
1. Elarduspark 9221
2. Wingate Park 4585
3. Waterkloof Landbouhoewes 3805
4. Erasmusrand 1358
5. Rietvalleirand 31256
6. Rietvalleipark 670
7. Kasteelpark Geen statistiek beskikbaar
8. Kasteelsig Geen statistiek beskikbaar
9. Dele van Garsfontein Geen statistiek beskikbaar
10. Dele van Moreletapark Geen statistiek beskikbaar

 

Ons gemeenskap bestaan grotendeels uit blanke Afrikaners vanuit die middelklas inkomste groep.  Die beroepe wat die meeste beoefen word deur Elarduspark inwoners is klerke, tegniese en geassosieerde posisies, wetsgeleerdes, regsposisies, senior beamptes en bestuurders in onderskeie velde.  Beroepe wat die minste beoefen word in ons gemeenskap is van nature landbou en vissery en dan ook masjien operateurs.

Die grootste persentasie van ons gemeenskap se totale bevolking is tussen die ouderdomsgroepe 0-24 jaar.  Elarduspark en omliggende areas is ook bevoorreg om ‘n lae werkloosheidsyfer te hê. Daar is amper 5000 meer vroue as mans.Gemeenskap 1

Aan die begin van Januarie 2005 is daar in ons gemeente begin met ʼn 5e Sondag-erediens, naamlik ʼn tienerdiens (16:30 – 17:30).  Van die begin het meer as 400 tieners dit begin bywoon.  Die instelling van hierdie diens blyk dus ʼn geseënde gebeurtenis te wees.  Die oortuiging word telkens uitgespreek dat die sukses van die tienerdiens die direkte vrug van ‘n geslaagde Kinderbediening is. Hierdie bediening met sy doelmatige Kinderkerk, skep ‘n stewige geestelike fondament waarop die Jeugbediening kan voortbou.  Met hierdie vlakke van groei het ons as gemeente besluit dit is inderdaad tyd om te groei.  Ons beplan dus uitbreiding op verskeie terreine van die kerk.  Om ons ‘n vaste basis te gee waarvolgens ons kan  beplan en ook meer agtergrond het ons in November 2007 bietjie navorsing in ons gemeenskap laat doen deur ‘n eksterne ontwikkelingskommunikasie konsultant.

Die uitslae was werklik insiggewend. Die volledige verslag is beskikbaar op versoek by preferential.info@gmail.com maar hieronder is ‘n paar sleutel bevindings.

Op watter vrae wou ons antwoorde hê?

  • Is daar ‘n behoefte vir ‘n jeugsentrum in die gemeenskap van Elarduspark en sy omliggende areas?
  • Hoe effektief is die interne en eksterne kommunikasie van NG Elarduspark?
  • Is dit moontlik om R15 – R20 miljoen vanuit die gemeenskap van Elarduspark te werf?

Wie moes antwoorde gee?

228 mense het gehelp in ons 6 weke lange soeke.  Vanuit hierdie deelnemers was 70% gemeentelede en 30% nie-gemeentelede. Hulle is verdeel in die volgende belangegroepe:

  • Die bestuur
  • Jeug
  • Jong werkendes
  • Ouers van laerskoolkinders
  • Ouers van hoërskoolkinders
  • Seniors
  • Eksterne rolspelers

Hoe het ons antwoorde gekry?

  • 2 vraelyste
  • Opinie ondersoek
  • 15 persoonlike onderhoude met rolspelers in die gemeenskap
  • 3 onderhoude met leraars vanuit die gemeente
  • Telefoniese of elektroniese geselsies
  • 4 fokusgroepe
  • Bestuurswerkswinkel
  • Observering by 8 kerkdienste
  • Groepsessies
  • Eksterne relevante data vanuit ander bronne (bv Grootte Kerk, Kaapstad)

Wat is die antwoorde?

  • Daar is definitief ‘n behoefte aan ‘n sentrum in Elarduspark en omgewing.
  • Dit het duidelik geblyk uit die opinievraelys (62%), onderhoude (100%), fokusgroepe (100%) en waarneming dat die behoefte nie net tot ‘n jeugsentrum beperk is nie, maar ‘n volledige gemeenskapsentrum.
  • 85% van die jeug binne en buite die gemeente het gemeen dat die sentrum sal werk. Daar is 10% wat reken dit het ‘n goeie kans (miskien), en net 5% sonder ‘n opinie.
  • Dit is opvallend dat slegs 65% hoërskoolouers reken die jeug het ‘n behoefte aan kerkbetrokkenheid, wat aansienlik laer is as al die ander belangegroepe. Slegs 40% van die ouers van buite die gemeente reken die jeug het ‘n behoefte aan kerkbetrokkenheid, wat aansienlik verskil met die opinie van jeug buite die gemeente (70%).
  • Die behoefte aan ‘n gemeenskapsentrum is alomteenwoordig maar daar is nie eenstemmigheid oor die  funksionering van so ‘n fasiliteit nie.
  • Vier baie spesifieke behoeftes het uitgestaan:
  1. Fasiliteite – daar is ongetwyfeld ‘n behoefte aan ‘n gebou en fisiese fasiliteite.
  2. Samehorigheid – die gemeenskap wil herenig word en ‘n plek hê waar hulle as vriende en familie saam kan kuier.
  3. Veilige sosiale interaksie en aktiwiteite vir die jeug en vir gesinne.
  4. Leraarbetrokkenheid – die mense wil die dominees persoonlik sien, en in hulle ondersteuning beleef. Individuele leraarbetrokkenheid gee vir mense die gevoel dat die kerk daar is vir hulle en dat Jesus ‘n werklikheid is.

Woorde uit die opinie-ondersoek…

Positief:

  • Lofprysing
  • Afwisseling van sprekers
  • Veilige, gerieflike plek
  • Atmosfeer
  • Goeie bywoning & ondersteuning
  • Kos
  • Speletjies
  • Flieks
  • Bands
  • As dit hip, funky en cool lyk
  • Ekstra klasse soos drama & dans
  • Jeugwerkers

Minder positief:

  • Min mense daar
  • Te veel streng toesig en grootmense
  • Lang geprekery en oninteressante praatjies
  • Formele aktiwiteite
  • Te veel riglyne
  • Verkeerde blootstelling
  • Te ‘kerk-agtig’

 

  • Die gemeente se interne en eksterne kommunikasie dra nie noodwendig die visie van die sentrum korrek oor nie. Daar moet baie spesifieke boodskappe geformuleer word en konstant en konsekwent gekommunikeer word met die onderskeie belangegroepe.
  • Elarduspark fokus byna eksklusief op interne kommunikasie en kan sy eksterne kommunikasie heelwat verbeter.
  • Een boodskap met betrekking tot die sentrum word nie regoor die organisasie verkondig nie – daar is opinie verskille.
  • ‘n Gesonde gemeenskap word onderhou, wat daartoe lei dat die gemeentelede oor die algemeen gelukkig is.
  • Daar bestaan ‘n hoë mate van vertroue by die verskillende belangegroepe.
  • ‘n Leemte wat tans bestaan, is doelbewuste pogings om meer sensitief te wees vir en bedag te wees op, inligting, boodskappe en leidrade uit die eksterne omgewing.
  • Grootste kommunikasie-uitdaging in die gemeente is die opwaartse vloei van kommunikasie vanaf die belangegroepe na die leierskorps.
  • Grootste kommunikasie-uitdaging vir die gemeente is om alle kommunikasie aktiwiteite effektief te integreer.
  • Kommunikasieterugvoer wat van  elke belangegroep ontvang is, behoort in diepte bespreek te word met  ‘n kommunikasiestrategie vir elke groep as uitkoms.

Het die jeug ‘n behoefte aan kerkbetrokkenheid?

  • Dit is moontlik om R15 – 20 miljoen se fondse vanuit primêr die gemeente, en sekondêr die gemeenskap van Elarduspark, te werf
  • Die helfte van alle respondente het aangedui dat hulle die sentrum finansieel sal ondersteun, en ‘n derde het gevoel hulle dit moontlik sal doen. Slegs 16% van alle respondente sal geen finanisiële bydrae wil maak nie.
  • Dit is egter duidelik dat grootste ondersteuning vanuit gemeentegeledere sal kom. 78% van gemeentelede het aangedui dat hulle die projek sal ondersteun met die insameling van fondse,  teenoor  30% van  nie-gemeentelede. 43% van nie-gemeentelede het aangedui dat hulle miskien die sentrum sal ondersteun; hierdie groep behoort  deur oorredende kommunikasie oorgehaal te kan word om ‘n bydrae te maak.
  • Daar is nie baie ruimte vir korporatiewe fondswerwing vir die projek nie. Selektiewe besighede in die gemeenskap het belangstelling getoon, maar dit is minimaal. Die gemeente kan die moontlikheid van regeringsondersteuning ondersoek, en daar kan by sekere besighede om ondersteuning aangeklop word. Korporatiewe fondswerwing vereis egter baie tyd en insette vir geen gewaarborgde resultate nie.
  • Die sentrum sal uiteindelik self-onderhoudend bedryf moet word met dienslewering wat fondse genereer bv. deur die verkoop van produkte.