Teologiese identiteit van die NG Gemeente Elarduspark

Teologiese identiteit van die NG Gemeente Elarduspark.

Voorlegging aan die Ring van Elarduspark: 27 Februarie 2017.

  1. Inleiding

Tydens ringsittings fokus die gasheer-gemeente gewoonlik op die uitbreiding van haar fasiliteite en/of enkele noemenswaardige bedienings.  Vanjaar wil ons in Elarduspark, as gasheer, fokus op ons teologiese identiteit.  Hierdie aanbod mag vreemd oorkom aangesien ons immers deel van die NG Kerk is wat diep in die gereformeerde tradisie ingebed is.  Ons teologiese identiteit behoort immers voor die hand liggend te wees. 

Gedagtig aan die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings in Oktober 2015 en toe weer in November 2016, is ons terdeë bewus dat daar verskillende teologiese aksente in verskillende kringe geplaas word wat soms uitloop tot erge spanning.[1] 

Daarbenewens staan die gereformeerde beginsel van semper reformanda voorop wat voordurende nadenke vra.

In hierdie verband volg ons voorts op die voetspore van Schreiter en Bevans in die konstruering van ‘n lokale teologie of kontekstuele teologie.[2]  Ons deel die oortuiging dat alle teologie kontekstueel van aard is.  Hieroor sê Jones: “Theology is, by its very nature, an ongoing conversation across the ages.  Some issues come up because culture brings them up, and we deal with them.  Gay marriage is a current topic in this vein, just as indulgences were for Martin Luther in the sixteenth century and Neoplatonic Gnosticism was for Augustine in the fifth.”[3]

Voorts Bevans: “Doing theology is ultimately the interpretation of experience.  This is how the Scriptures came to be written; this is how the doctrinal tradition was formed; this is how theologians theologize today.  Theology has always been done this way.  What contextual theologizing proposes is to recognize this in a conscious and deliberate way”.[4]

De Gruchy wys ook alle gedagtes van ’n moontlike universele teologie af: “One of the dangers of the notion of theology as a science is the implicit assumption that the theological systems which have evolved in Western European theology are universal and therefore paradigmatic for all Christian theology.  What needs to be recognised is that all theology is contextual, including Western European theology, simply because every  theology develops within a particular historical context”.[5]

Dit gaan dus in hierdie dokument ten diepste om lig te werp oor die wyse waarop teologie in die plaaslike gemeente, by name Elarduspark, as lokale of kontekstuele teologie bedryf word.

Elarduspark se poging vanaand is nie om ‘n debat te ontlok of verskille in eie kring te beklemtoon nie.  Ons wil doodgewoon verduidelik hoe ons ons teologiese identiteit en benadering tot ons roeping in hierdie gemeente sien.  In die woorde van Schreiter wanneer hy oor kriteria vir ‘n Christelike identiteit praat in die beoefening van ‘n plaaslike of kontekstuele teologie: “Local theology needs latitude to find its own voice, but also needs the critique of other local communities, both present and past”.[6]

Die gedagte is ook nie om ‘n volledige teologiese diktaat uit te werk nie, maar om so populêr moontlik te handel op ‘n wyse wat tog teologies verantwoordbaar is.

In hierdie proses stel ons onsself oop vir kritiek en respons sodat ons hopelik kan groei in teologiese insigte.

(Dit gaan dus om twee sake, naamlik die realiteit van teologiese strominge binne die NG Kerk, maar ook die verantwoordelikheid om ’n lokale teologie te konstrueer.)

  • Die roeping van die NG Gemeente Elarduspark.

Ter aanvang begin ons met ‘n verduideliking van die gemeente se roeping omdat dit ten diepste ons verstaan van God se wese en sy handelinge met die mens verwoord.

Die roeping lui: “Die liefde van God, vir elke mens, oor alle grense heen” en word dikwels aan die begin van die liturgie deur die hele gemeente liggaamlik-demonstratief opgesê.

God is in sy wese liefde.  Die resente herwaardering in trinitariese teologie fokus sterk op hierdie waarheid.

Ten diepste roep sy wese wat Hy aan ons openbaar, ‘n respons op.  In Elarduspark glo ons wat God vra, is nie eerstens gehoorsaamheid nie.  Laasgenoemde sal binne ‘n tipiese Afrikanertradisie en gevolglik NG Kerk, die verwagting wees.  Wat God vra, is oorgawe.[7]  Die heling van die sondige en gebroke mens is geleë in die oorgawe aan die God van liefde wie se arms onvoorwaardelik na die verlore seun uitgestrek is.

Die bedieningsfokus van die gemeente is nie in die eerste plek op die heiligheid van God nie.  Hoewel dit geensins uitgesluit word nie, leer die geskiedenis van die kerk dat waar gelowiges die heiligheid van God probeer handhaaf het, dit gewoonlik tot tragiese gevolge gelei het.  Die oortuiging bestaan binne Elarduspark dat die uitgangspunt in haar bedieninge die uitnodigende en verwelkomende liefde van God moet wees.  Ietwat kras gestel: God sal self vir sy heiligheid sorg.  In hierdie verband dien die priester en die Leviet in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan as voorbeeld van mense wat hulle reinheid ooreenkomstig die Torah gehandhaaf het, ten koste van die liefde.[8]

Daarom kan Elarduspark in haar roeping van die liefde die missionale woorde “vir elke mens” onvoorwaardelik opneem.

Die missionaliteit van die gemeente is ‘n wesenlike imperatief wat voortvloei uit die trinitariese bestaan van God en daarom die woorde “oor alle grense heen”.  Hoewel Deut 23:1 ‘n lys bevat van watter soort mense nooit deel van die gemeente mag word nie en hoewel Esra en Nehemia dit skokkend toepas, sien ons die verandering in die  openbaring van God in Jes 56 en ook in die geslagregister en bediening van Jesus sowel as die werking van die Heilige Gees in die vroeë kerk wanneer mense toenemend ingesluit en nie uitgesluit word nie.

Die roeping van die gemeente het veral ‘n inkarnasieteologie as uitgangspunt wat as grondslag vir menswaardigheid dien.  Daarom sien die gemeente haar roeping in lyn met die Algemene Sinode se Seisoen van Menswaardigheid.

Dit is vir die gemeente belangrik om nie ‘n humanistiese teologie na te volg nie, maar humanosentriese teologie.[9]  Konkreet beteken dit dat God se liefde vir die mens grensloos is, soveel so dat Hy bereid was om mens te word ter wille van die heil van die mens. 

In hierdie missionale dimensie van ons ekklesiologie – “oor alle grense heen” – wil ons graag in dankbaarheid op die voetspore van ons denominasie se nuwere denke volg.

Vanuit ons roeping, volg ons uitgangspunt in hierdie tydsgewrig “To love well, is to listen well”.  Hierin is die Jeugbediening vir ons ’n voorbeeld waar die fokus nie meer op uitreike val nie, maar kontakgeleenthede waar daar nie net respekvol na ander rasse geluister word nie, maar ook na ander gelowe.

Die boek “When Helping Hurts. How to alleviate poverty without hurting the poor … and yourself ” het ’n groot rol in ons verstaan van ons tradisionele missionale aktiwiteite gespeel en daar word steeds in hierdie verband gesoek na nuwe weë wat in ons konteks en tydvak volhoubaar is.  Ons vermoed dat ’n postkoloniale teologie ons in hierdie verband kan help.[10] 

  • Die Doop – ‘n teologie van genade.

In Elarduspark word die gereformeerde beskouing van die kinderdoop nougeset gehandhaaf in die oortuiging dat hierdie sakrament ten diepste spreek van genade soos verwoord in die ou Gesang 10:2  “Voordat ek kon kies kon vra, het U Seun my vloek gedra”.

Die genadekarakter van die doop word veral teruggevind in ons Godsbeskouing waar die mobiliteit tussen God en mens gesien word as ‘n beweging van God na die mens.  Hierin verskil ons van die charismatiese uitgangspunt wat met ’n teenoorgestelde beweging die genadekarakter reduseer.

Inhoudelik word die genadekarakter van die doop ten diepste gestel in die goddellike toesegging wat opsommend verwoord kan word met “Ek sal vir jou God wees en jy sal my kind wees”.  Dit is God wat eerste praat (d.i. sy toesegging), nie die ouers wat eerste praat nie (d.i. hulle belofte).  Ouers respondeer op God se inisiatief.

Metafories word hieraan uitdrukking gegee met ‘n kinderpreek jare gelede in die gemeente toe ‘n ooi en lammetjie in die kerkruim gebruik is om aan te dui dat beide ‘n oormerk het wat eienaarskap aandui en dat beide se oormerk dieselfde is.  Die ooi en die lam behoort aan dieselfde boer.  Voorts is ‘n kraal gebou om aan te dui dat die eienaar beide binne sy kraal versorg.

‘n Vashou-kruis word vir die babas gegee wat die boodskap van die genadekarakter verder versterk:  die evangelie word reeds gegee en belydenisaflegging is ten diepste die dankbare aanvaarding – die toemaak van die hand met die kruis daarbinne – van die heilsverhouding wat reeds toegesê is.

Vir baie jare het ons geglo dat dit primêr die kerk se plig is om ons kinders meer van God te leer. As ons na kerke se verskillende Jeugbedienings kyk, sal ons sien dat die programme vir die jeug rondom die kerk draai en hierdie idee versterk.

Die onlangse navorsing wat in die kerk gedoen is, het weereens bevestig dat ouers die grootste invloed op hulle kinders se geloof het.

Hierdie navorsing het ons laat besef dat ons in ons gemeentes ‘n kopskuif moet maak i.t.v. hoe ons Jeugbediening benader.  Ons het besluit om weg te beweeg van ‘n alles rondom die kerk doen jeugbediening na ‘n jeugbediening wat ook die huis se rol erken en uitbrei.

In die verlede is daar geglo jy bring  jou kind kerk toe waar geloofsvorming eintlik plaasvind. Vandag besef ons dat  die vorming van geloof in die eerste plek by die huis plaasvind en dat die kerk die huis daarin behoort te ondersteun op ‘n praktiese manier.

Kerk en huis vorm ‘n span wat saamwerk om kinders se geloof te vorm.

Hierdie manier van dink maak dat ons na al ons gemeente se bedieninge deur ‘n huisgeloofbril kyk. Ons is dus besig om verskillende ruimtes by die kerk, onder andere die erediens, omgeegroepe en die kategese, so in te rig dat dit geloofsvorming by die huise aanwakker en ondersteun.

Ons rig ons kategese en eredienste ook so in dat ouers maklik met hulle kinders by die huis kan gesels oor dit wat hulle by die kerk geleer het.

Die gemeente skep ook geleenthede by die gemeente om ouers te begelei rondom ouerskap en die geloofsvorming van hulle kinders.

  • Die Soteriologiese Reduksie en ‘n Koninkryksteologie.

Ds Gys van Schoor was in 2013 die genooide spreker tydens die retraite van die Ring van Elarduspark. By hierdie geleentheid het hy onder andere kritiek uitgespreek teen die sogenaamde driepunt-evangelie wat ten diepste op ‘n godsdienstige egoïsme dui, te wete

  • Ek en my sonde”;
  • Ek en my verlossing”
  • Ek en my dankbaarheid”. 

Daarteenoor het hy Matt 28:18-20 as basisteks gebruik om die kerk tot ‘n nuwe selfverstaan binne ‘n koninkryksteologie te bring.  Gys het die tradisionele en uitsluitlike fokus op Matt 28:19 binne die NG Kerk uitgewys, terwyl hierdie imperatief slegs betekenis kan kry binne die teologiese raamwerk van verse 18 en 20.  In vers 18 gaan dit ten diepste om die belydenis van Jesus as Here en in vers 20 om die geloofsoortuiging van Jesus se eksistensiële teenwoordigheid.  Dit is binne die handhawing van hierdie belydenisraamwerk dat die kerk die gevaar ontkom van ‘n menslik gedrewe evangeliese ywer, hoe indrukwekkend dit ookal gedoen word.

Binne Elarduspark word bogenoemde uiteensetting van Matt 28:18-20 metafories verwoord met die beeld van ‘n volstruis en arend.  Die volstruis het ‘n goed ontwikkelde liggaam, maar twee onderontwikkelde vlerke wat sy voëlstatus, speels gestel, in gedrang bring.  Wie wil sweef op die wieke van die Heilige Gees het die vlerke van verse 18 en 20 nodig.

Prof Heyns het in sy boek, Dogmatiek, reeds in 1978 op die gevare van ‘n soteriologiese reduksie gewys.  Dit gebeur wanneer die skopus van die Bybel nie teosentries, maar Christologies verwoord word.  ‘n Teosentriese skopus plaas dadelik die koninkryk van God sentraal.  Heyns waarsku dat indien ons die openbaring in Jesus Christus die sentrale inhoud van die Skrif noem, “… dan mag dit nooit gaan met uitsluiting of selfs verwaarlosing van die gedagte van Gods universele heerskappy oor ál die werke van sy hande én die daarmee geïmpliseerde oproep tot gehoorsame aanvaarding van sy heerskappy nie”.  Heyns se omvattende evangeliese verstaan vanuit teosentriese vertrekpunt word nóg duideliker in sy verwysing na Barth: “En wanneer Karl Barth oor die nuwe wêreld in die Bybel handel, sê hy die bedoeling van die Bybel is om ons in die nuwe wêreld van God in te lei en dit beteken inhoudelik dat dit gaan om Gods heerskappy en dáárom ook om nuwe mense, nuwe verhoudinge en nuwe politiek”.  Ten slotte Heyns se waarskuwing: “Ons sal … versigtig moet wees vir ‘n soteriologiese verenging van Gods handelinge …”.[12]

Snyman wys op die invloed wat Plato op die Christelike teologie gehad het en wat nooit onderskat moet word nie.[13]

Hy verduidelik dat Plato die konsepte van verganklikheid en onverganklikheid teenoor mekaar gestel het met ‘n duidelike voorkeur vir die onverganklike.  Die verganklike is ‘n gebrekkige afbeelding van die onverganklike en daarom is die werklikheid van vlees en bloed gebrekkige afbeeldings van ewige idees.  Die siel moet verlos word van die onvolmaakte en verganklike kerker van die liggaam.

Wanneer die Jesusverhale deur die bril van die Platonistiese filosofie gelees word, word die geskiedenis van Jesus bloot die geskiedenis van ‘n oorgang van die onvolmaakte wêreld na die eintlike ewige wêreld. 

Dat die Platonistiese bril waarskynlik ‘n rol gespeel het in die Christendom se lees van die Jesusverhale, sien ons onder andere in die Apostoliese Geloofsbelydenis wat ‘n sprong maak van Jesus se geboorte na sy kruisiging.  Die lewe en bediening van Jesus word bloot geïgnoreer.

Snyman wys ook op die invloed van Plato op die skryf van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB).[14]  Die dualisme van goddelike natuur en menslike swakheid/sondigheid word deurgaans voorop gestel sodat selfs die mens se beste werke onvolmaak en met sonde besmet is.  Die gevolg is dat die aardse lewe bloot gesien is as ‘n oorgangstadium na die ewige lewe. 

Hy betoog verder dat die Platonistiese invloed in die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu homself sterk laat geld het met die politieke verandering.  Vrede is in kerklike kring bewaar deur te fokus op die hiernamaals met weinige refleksie oor die moraliteit van apartheid.  Dit het makliker geword om te preek oor die hemel wat moet kom as oor die menslike natuur wat deur apartheid chaos gesaai het.  Die etiese dimensie van teologie is bloot verwaarloos en/of geïgnoreer.

Snyman sê: “Die reformatoriese teologie, soos ek dit verstaan binne die raamwerk van die NGB en die Heidelbergse Kategismus, spreek nie aan dit wat in die aardse lewe tussen mense gebeur het nie”. En: “Iets wat ek egter nie in die NGB of HK terugvind nie, is dat die herstelde verhouding met God nie gebruik word om versoening ook tussen mense te bewerkstellig nie.  Met ander woorde, die NGB en HK is reeds so in die raamwerk van die Platonistiese interpretasie van die lewe en werk van Jesus gegiet dat genoegdoening tussen mense nie aandag kry nie.” [15]

In aansluiting by Jesus se woorde in Mark 1:15 wil ons in hierdie gemeente fokus op die koninkryk van God wat hier op aarde naby gekom het.

In hierdie verband speel die teologiese insette van Tom Wright en Scott McKnight ’n groot rol in die denke van die leraarspan.[16]  In Februarie 2016 het dr. Marius Nel  van die Kweekskool op Stellenbosch tydens die ringsretraite van die Ring van Elarduspark ook ’n oorsig oor die evangelie-beskouing van Wright gegee.

Uitsprake wat tot ’n nuwe ondersoek en waardering na die betekenis van die kruis en die evangelie aanleiding gee, is onder ander die volgende: “Yes, the good news is indeed about Jesus, and about his death and resurrection in particular.  Yes, this good news does indeed open up a vision of an ultimate future beyond death, so that we live in hope and joy meanwhile.  But the usual heaven-and-hell scheme, however popular, distorts the Bible’s good news.  Over many centuries, Western churches have got the story wrong”.[17]  En McKnight: “I believe the word gospel has been hijacked by what we believe about “personal salvation,” and the gospel itself  has been reshaped to facilitate making ‘decisions’”.[18]  Jones gee ’n goeie historiese uiteensetting hoe die juridies geïnspireerde teologie van Anselmus via Thomas Aquinas (Skolastiek) en Luther/Calvyn (Reformasie) en Jonathan Edwards (Groot Ontwaking) ’n bepalende invloed die afgelope duisend jaar gehad het op ons evangelie-beskouing wat deur Wright as ’n distorsie getipeer word.[19]

Prof. Heyns se waarskuwing teen ’n soteriologiese reduksie wanneer die Bybelse skopus Christologies verstaan word, word dus deur Wright en andere verder geneem wanneer hulle op die reduksie en distorsie binne ons soteriologiese denke wys.

  • Cura vitae – Die Hermeneutiek van Spirituele Heling.

In 2015 het die leraarspan saam ‘n kursus van prof Daniël Louw in Potchefstroom bygewoon.  Hy het ons oë geopen vir die konsep van cura vitae: “With cura vitae is meant: life should be healed”.[20]  In die lewensvraag na betekenis te midde van die eksistensiële realiteit van lyding en dood, is die vraag of die Christelike geloof heilsaam kan bydra tot menslike heelheid.  Is ‘n Christelike spiritualiteit moontlik wat kan dien as bron van heling en wat ‘n betekenisvolle interpretasie van die lewe kan gee?

In ‘n matriks wat as raamwerk dien vir ses eksistensiële vraagstukke (angs en dood; skuld en skaamte; wanhoop en vertwyfeling; hulpeloosheid en eensaamheid; woede en frustrasie; hebsug en begeerte) bied hy ‘n evangeliese spiritualiteit aan wat onder andere begrond word in die Bybelse begrip van shalom.[21]

Hierdie gebeure het ook saamgeval met Gys van Schoor se materiaal vir 40 dae met die tema: Jesus maak heel, waarin die werke van Pete Scazzero ‘n groot rol gespeel het.[22]

Tesame met bogenoemde het ‘n nuwe bewussyn gekom oor die rol van angs

 in die samelewing asook in die Bybel (merimnaw in Griekse Nuwe Testament).  Daar is onder andere gekyk na tien teoloë se verstaan van angs vanuit evangeliese perspektief, waaronder Luther, Calvyn, Bonhoeffer en Barth.[23]

In Elarduspark glo ons dat die Here ons met nuwe oë laat kyk het na die menslike kondisie en op watter wyse die heilsboodskap met sy volle rykwydte mense in Jesus wil laat rus.

  • Skrifbeskouing

AKLAS skryf in sy 2011 verslag aan die Algemene Sinode: “Die Gereformeerde Skrifbeskouing is tans in meer as een opsig in ‘n krisis en oorgangstadium”.[24]  Die waarheid van hierdie stelling het veral in 2015 en 2016 se Algemene Sinodes na vore gekom.  Landwyd word konferensies oor Skrifgesag en Skrifhantering beplan en gehou. 

Hierdie krisis raak ‘n wesenlike dimensie nie net van ons geloofsverstaan nie, maar van ons geloofsidentiteit aan.  Van Aarde se opmerking is van toepassing: “Die identiteit van gelowiges in die Reformatoriese tradisie hou wesenlik met Skrifbeskouing verband en veral die vraag of die Skrif die sentrale element in die identiteit inneem”.[25]

Wat hier onder volg, wil nie poog om ‘n volledige teologiese diktaat te wees nie, maar wil veral aan die hand van ‘n metafoor, wat al dikwels in eredienste in Elarduspark gebruik is, besin om uiting te gee aan die leraarspan se Skrifbenadering.

‘n Uitgangspunt as oortuiging

Ons uitgangspunt is die volgende oortuiging:  Ons glo nie in die Bybel nie.  Ons glo in God.[26] 

Met hierdie oortuiging wil ons ‘n wesenlike onderskeid tussen God en die Bybel maak in die erkenning dat God God is en dat geen mensehand meegewerk het aan die ontstaan en bestaan van God nie.  Dit is juis die gebrekkige onderskeid tussen Jahwe en die Jerusalemse tempel wat Israel die profetiese kritiek van “Die Here se tempel, die Here se tempel” op die hals gehaal het.

Die metafoor van die s(S)on en loodglasvenster

Ter verduideliking van hierdie metafoor gebruik ons die loodglasvensters van ‘n tipies Europese katedraal as synde uitdrukking van die Bybel met sy ryke verskeidenheid van narratiewe en ander tekste en die sonlig as aanduidend daarvan dat God die son is wat deur die loodglasvensters op ons lewens skyn. 

Die venster – menslike vakmanskap as geloofsgetuienis

Die Bybel is nie ’n venster wat deur God ingesit is nie.  Dit is gelowige mense en geloofsgemeenskappe wat opeenvolgend hulle eie lewensverhale verwoord het en so oor die tye heen die prentjies gekonstrueer het wat as geloofsgetuienisse getipeer kan word.  Verskeie van die verhale is op latere tydstip herinterpreteer om teologies sin aan die eie ervaring te gee.

Oor eeue heen het mense meegewerk om die loodglasvensters te konstrueer en in plek te sit.  Hierdie menslike betrokkenheid by die produksie van die tekste/loodglasvensters, word in ons teologiese tradisie omskryf in die inspirasieleer en die uiteindelike finalisering van die loodglasvensters/tekste in die kanonvorming.

Die Nederlandse teoloog Abraham Kuyper was verantwoordelik vir die meganiese inspirasieleer wat vandag algemeen afgewys word.  Teenoor hom het Herman Bavinck die organiese inspirasieleer geformuleer wat vandag algemene instemming in gereformeerde kringe vind.  Die probleem is egter dat sommige gelowige mense die organiese inspirasieleer praat en bely, maar hulle dink vir alle praktiese doeleindes in lyn met die meganiese inspirasieleer.[27]

Die implikasie hiervan, soos aan die Algemene Sinode uitgewys, is ‘n oorwegend biblisistiese en fundamentalistiese Skrifbeskouing “Ons Skrifberoep was gekenmerk deur ‘n direkte een-tot-een verhouding tussen die Bybel en ons situasie”.[28]

Snyman praat van ‘n tydbom wat gewag het om te ontplof omdat beide Kuyper en Bavinck nie die menslike aspek in hulle inspirasieleer na behore verreken het nie.[29]  Tydens die algemene bespreking by die Buitengewone Algemene Sinode van 2016, het ‘n spreker ook na die bekende du Plessis-saak verwys.  Hy het uitgewys dat die Algemene Sinode wat teen prof du Plessis beslis het, nie die teologiese gesprek rakende Skrifbeskouing uitgeklaar het nie, maar doodgewoon met ‘n meerderheid van stemme teen du Plessis as dosent gestem het.  Die onopgeloste teologiese vraagstuk van die 1920’s haal nou in 2016 die NG Kerk in, aldus die betrokke spreker.

Die menslike betrokkenheid by die produksie van die teks asook by die lees van die teks word intens deur die leraars van Elarduspark verreken.  Beide hierdie genoemde dimensies van menslike betrokkenheid word tradisioneel nie genoegsaam belig nie en in Elarduspark wil die leraarspan dit juis doen.

Benewens die feit dat daar verskeie stemme met verskillende perspektiewe in die Bybel aan die orde kom (dus ‘n verskeidenheid van loodglasvensters),[30] toon ‘n noukeurige lees van die tekste dat daar vele historiese, geografiese en kronologiese diskrepansies en weersprekings voorkom.[31] 

Die vraag wat na vore kom is of bogenoemde beskouing nie die onfeilbaarheid van die Bybel in gedrang bring nie.[32]  In hierdie verband kan die onderskeid tussen onfeilbaarheid en feilbaarheid soos wat dit in die bekende du Plessis-saak aan die orde gekom het, ons baie help.[33]  Feilbare mense het geskryf en hulle feilbaarheid is duidelik sigbaar wanneer ons nadere ondersoek doen.  Die historiese, kronologiese en geografiese foute is toe te skryf aan die feilbaarheid van mense in die produksie van die teks.  Die inspirasie beteken nie dat die feilbaarheid van die skrywers geëlimineer is nie.  Dit is duidelik sigbaar in noukeurige Skrifstudie.

Vir die leraars van Elarduspark is die onfeilbaarheid, daarenteenoor, geleë in die bekendmaking van God, die boodskap van God se koninkryk en evangeliese genade vir die mensdom.  “In die Bybel word die Goddelike heilsboodskap deur die geskrifte van feilbare mense aan ons geopenbaar”.[34]

Snyman sê: “Die kruks van die probleem lê in die siening dat die Bybel ‘n objektiewe openbaring van God is”.[35]  Binne fundamentalistiese kring funksioneer hierdie beskouing met groot oortuiging en enige poging om afbreuk hieraan te doen, word gesien as ‘n aantasting van die Skrif se gesag en daarom ook God se gesag.  Volgens hierdie beskouing spreek God en die mens moet bloot aanvaar wat Hy sê.  Dit laat Snyman met die konklusie: “Die doodsteek van die kerk is om die Bybelteks vanuit ‘n gebrekkige historiese bewussyn te lees”[36] en: “Die menslike wortels word nie meer in ag geneem nie, sodat die boek in goddelike inspirasie opgegaan het.  Omdat die reformatoriese siening van inspirasie die menslike aspek van die teboekstelling van die Bybel verdoesel, moet ons rekening hou met ‘n tydbom wat nou afgegaan het”.[37]

Die vraag wat na vore kom, is of die Bybel geloofsgetuienis oor God is en of dit openbaring van God is?  Of dalk albei?  Hier gaan betoog word dat die Bybel nie openbaring van God in sigself is nie, maar dat God juis deur die kerugma van die Bybel die leser/hoorder ontmoet.

Voorts: die groot en belangrike vraag wat met bogenoemde beskouing na vore geroep word, is of ons dan nog van die Bybel as Woord van God kan praat?

Die s(S)on skyn deur die loodglasvenster

In die metafoor word die son as God aangedui.  Die Sonlig val nie direk op ons nie.  Dit val deur die loodglasvensters.  Met ander woorde, daar is nie ‘n objektiewe openbaring in die Bybel as sodanig nie. 

Hieroor, dit is die beskouing van objektiewe openbaring, skryf Snyman: “Die belydenis dat die Bybel God se woord is, word verstaan binne ‘n filosofiese raamwerk wat dit interpreteer as objektiewe openbaring.  Onmiddellik word die mens buite die proses gestel deurdat hulle alleen maar ‘n oordragfunksie bekom as die medium waardeur die openbaring aan die mens gekom het.  Maar die Bybel kan eweneens God se woord wees vanuit ‘n ander filosofiese raamwerk.  Dit gaan net nie objektief buite die mens wees nie, maar integraal deel van die mens se denke.”[38]

Die sonlig val nie direk op ‘n mens nie.  God kies om Sy sonlig deur die geloofsgetuienisse van die loodglasvensters te laat val op gelowiges van ander tydvakke en situasies.  Die geloofsgetuienis is dus nie bloot menslike getuienis nie, maar ‘n Godgekose wyse/medium waardeur Hy sy teenwoordigheid en heilsboodskap bevestig.

Gedagtig aan die sonlig in die metafoor, formuleer ons die Woord van God nie soseer in die Bybel nie, maar deur die Bybel.  In die gereformeerde tradisie bely ons dat God voortgaan om die kerk te regeer deur sy Woord en sy Gees.  Sy Woord is nie vasgevang in die Bybel nie, maar is vanweë die werking van die Gees altyd groter en dinamies in sy voortgaande werking.[39]  In die lig van die reeds genoemde diskrepansies en weersprekings, sou ons dus kon sê dat die Woord van God tot ons kom ten spyte van die Bybel – bedoelende die menselike betrokkenheid in die produksie van die teks.

In hierdie verband wil ons met Brümmer in sy ontleding van Andrew Murray se Skrifbeskouing saam stem dat die Bybel nie die Woord van God is “omdat dit onfeilbare waarhede meedeel nie, maar omdat dit ‘n lewemakende rol in die spiritualiteit van die gelowiges speel”.[40]

‘n Kort samevatting van Van Aarde se bespreking van kerugma soos ons dit vind by Schleiermacher en Bultmann kan ons hier dalk help.[41]  Van Aarde sê: “Die Skrif is nie op sigself kerugma nie en die Skrif is daarom ook nie die grond van die geloof in Christus nie” en “… die tradisionele “kerklike leer” oor die Skrif … (kan) ‘n mens maklik onder die indruk bring dat die Skrif die bron van geloof is”.[42]  Dit is die kerugma, die verkondigde Christus, wat geloof oproep.  Die vraag hoe die dokumente in die Skrif geproduseer is en die foute wat uitgewys kan word, het geensins betrekking op geloof nie.  Van Aarde haal Bultman aan: “In die verkondigende Woord en in die geloof wat oop is na hierdie Woord toe vind die daad van God in Christus steeds plaas”.[43]  Die kerugma het in die genoemde metafoor betrekking op die sonlig en by name die geloofswerking van die sonlig in die lewe van die persoon wat duskant die venster sit.  In die Skrif gaan dit dus nie soseer om die ontsluiting en ontdekking van leerstellige waarhede nie, maar om die goddellike ontmoeting en verhouding wat gebeur en tot stand kom. 

Die woorde van Jones verhelder bogenoemde: “… the Bible is the second most important revelation of God to humanity.  The most important revelation of God is Jesus himself”.[44]

Daarom word lidmate in Elarduspark aangemoedig om tyd digby die loodglasvensters te spandeer.  Op hierdie wyse kan hulle eerstehands die sonlig van God op die vel van hulle siele ervaar.  In die prediking word daar voorts gepoog om lidmate nader na die loodglasvensters te nooi om self die inspirerende werking van die Gees/sonlig te ervaar.  Die einddoel van die prediking is nie om bloot die aandag op die loodglasvenster te vestig nie, maar om die ervaring van God se sonlig te fasiliteer op ‘n manier wat nuwe oriëntering en gedrag in eie konteks moontlik maak.

Bevans se opmerking is verhelderend: “Rather than understanding Revelation in conceptual and informational terms, contemporary theology has recognized that it is the offer of God’s very self, and so is a divine presence experienced in the weave of history and people’s lives”.[45]  Wanneer gelowiges die Bybelse openbaring sien in “conceptual and informational terms” word daar gewerk met ‘n raamwerk van absolute sekerhede en het die Bybel nie veel meer as ‘n stoorkamer vir dogmatiese en historiese feite geword nie.[46]

Snyman neem die kritiek verder: “Die huidige probleem met wat mense sien as ‘godsopenbaring’ is dat dit hanteer word soos mens dogma aflei uit Bybeltekste.  Daar word net na die teks gekyk en van daaruit word ‘n algemene stelling geformuleer oor God waaraan die lidmate gehoor moet gee.”  En: “Die gedagte van godsopenbaring hang saam met ‘n idee van inspirasie wat die menslike aspek in die totstandkoming van die Bybel misken.  Inspirasie kom neer op ‘n heiligverklaring van die Bybelverhale”.[47]

Die groot en ernstige vraag wat voortspruitend aan die orde kom, is of bogenoemde beskouing ons nie in die slaggat van ‘n subjektiewe lees laat val nie?  Het ‘n objektiewe soeke in hierdie leesproses nie verlore geraak nie?

Hoe lees ons die loodglasvensters?  ‘n Verantwoordbare hermeneutiek.

Gedagtig aan Van Aarde[48] se drieledige onderskeid van die Bybel as boek van die kerk, boek van die gelowige en boek van die (wetenskaplike) teologie, word daar prakties-teologies op drie maniere met die Skrif in Elarduspark omgegaan.

In die eerste plek word lectio divina gepropageer vir persoonlike omgang met die Skrif.[49]  Van Aarde noem dat lidmate ‘n pietatis en reverentia vir die Bybel het en dat hierdie pre-kritiese of post-kritiese lees van die Bybel kanonieke gesag veronderstel.  Die gevaar van biblisisme en fundamentalisme is syns insiens egter groot.[50]

Wandel-in-die-Woord het veral bekend geraak met die materiaal van Pat Keifert en die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes.  In hierdie benadering gaan dit om klein groepe se omgang met die Bybel as ‘n manier van gedeelde kerkwees.

In die derde onderskeid is die fokus veral op die leraars en hulle manier van omgang met die Skrif in die oortuiging dat hulle Skrifhantering ‘n effek op lidmate se uiteindelike Skrifbeskouing het.

Dit is veral ten opsigte van laasgenoemde onderskeiding dat hier besin word oor die wyse waarop die loodglasvenster, of die teks dan, in Elarduspark gelees word.  Die loodglasvenster is inderdaad deursigtig, maar die betekenis en ons verstaan daarvan is nie so voor-die-handliggend soos wat sommige wil voorgee nie.[51]

Wat heel eerste onderskei moet word en waarvan die leraarspan bewus wil wees, is die eie konteks in onderskeid met die teks se konteks wat ter sprake is. 

Ons wat neffens die loodglasvenster sit, sit in die ooste van Pretoria in ‘n voorstedelike, dominant Afrikaanse omgewing met al die voorregte wat daarmee saamgaan.  Ons as lesers van die teks sit nie in ‘n plakkerskamp waar daar nie lopende water of elektrisiteit beskikbaar is nie.  Ons onmiddellike konteks van bevoorregting, welvarendheid en geleerdheid bepaal ons lees van die teks anders as lesers in die plakkerskamp van Ivory Park se lees en verstaan.  Die leser se geografiese en sosiale ligging bepaal konteks en subjektiwiteit by die lees van die teks.  Wat ons egter wel met mekaar deel, is onder andere die Grondwet van Suid-Afrika wat ook die lees van die Bybelteks beïnvloed.  Dit is juis op hierdie punt wat ons onderneem om al meer kennis te neem van ’n postkoloniale lees van die Bybel.

In hierdie verband wys Rohr ook op die treffende voorbeeld van hoe die Christene gedurende die eerste 300 jaar in katakombes vergader het, maar na die jaar 400 na basilikas beweeg het.  Hierdie beweging van ’n konteks van marginalisering na ’n konteks van bevoorregting, het ook hulle manier van Bybellees verander.  Aanvanklik is die Bybel gelees as subversiewe literatuur, maar later as establishment-literatuur.[52]

Buite-tekstuele gegewens word dus in die teks ingedra.  Ons kan dus ten regte praat van die ervaringswêreld van die leser en die verwysingwêreld van die teks[53] waar dit in laasgenoemde gaan om die teks se eie konteks.[54]

Dit impliseer dat die uitskakeling van subjektiwiteit by die lees van ‘n teks onmoontlik is.  Die resepsiekritiek het dit reeds uitgewys[55] en daarom aanvaar ons die onmoontlikheid van een, enkelvoudige lees van dieselfde teks.  Menslike betrokkenheid by die lees van ‘n teks is net so groot werklikheid as menslike betrokkenheid by die teboekstelling van die teks.

Ons aanvaar voorts dat dit in die teks in elk geval nie gaan om objektiewe openbaring nie.  Dit is reeds aangetoon.  Wat voorts afgewys moet word, is ‘n objektivistiese lees van die teks.  In hierdie verband het Cronjé met sy voorlegging aan die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 al betoog dat een, suiwer “ortodokse” interpretasie van ‘n teks nie moontlik is nie asook die feit dat verskillende interpretasies van God se wil selfs in die Bybel moontlik is.[56]

Die Woord van God is nie in die loodglasvensters vasgevang om net deur ons afgelees te word sodat ons daarmee in ons konteks kan leef nie.  Anders gestel: die sonlig val nie direk op ons nie.  Daar is nie ‘n direkte openbaring wat net afgelees moet word nie.  Nee, die Woord van God gebeur met ons deur die loodglasvensters in ons eie konteks.   Die Bybel as Woord van God is nie openbaring insigself nie, maar die wyse waarop of waardeur openbaring plaasvind.

Hieroor sê Snyman: “… kan lesers baie maklik die Bybelteks sien as die aaneenryging van ewige woorde (letterlike woorde van God) wat onweerlegbare waarhede weergee.  Aangesien die woorde van God kom, is dit nie besmet met praktiese menslike oorwegings nie”.[57]

‘n Verantwoordelike hermeneutiek erken dus subjektiwiteit by die lees van die teks en moet besluit hoe daarmee op verantwoordelike wyse omgegaan word.  ‘n Verantwoordelike hermeneutiek soek dus nie objektiewe waarhede wat bloot afgelees moet word nie.

‘n Verdere aspek in ‘n verantwoordelike hermeneutiek, wat reeds hierbo aan die orde gekom het, is dat ‘n historiese bewussyn in die prediking deurgaans gekweek word.  Met historiese bewussyn word veral die teks se konteks bedoel wat in die prediking belig word.  ‘n Voorbeeld hiervan is 2015 se adventspreke binne die gemeente toe die tekste deur  ‘n empire-bril gelees is waar onder andere die historiese figure van keiser Augustus en koning Herodus die Grote nie bloot as agtergrondinligting of historiese dekor hanteer is nie, maar as aktiewe rolspelers interpreteer is in die ontsluiting van die Jesus-krip se betekenis.[58]  Die sleutelvraag is wat lê buite die teks wat betekenis afdwing en waarvan die leser bewus moet wees om respekvol met die geskrewe teks om te gaan?[59] ‘n Historiese bewussyn vra na die noodsaak wat die geboorte van die teks veroorsaak het.[60]

Bogenoemde beteken ook dat ‘n letterlike lees van die teks ons in die gevaarwater kan laat beland asof ‘n letterlike lees in ooreenstemming is met die oorspronklike konteks en bedoeling.  ‘n Letterlike lees verstaan nie genoegsaam dat die woorde wat op skrif gestel word, ‘n verlies aan konteks meebring nie.  Waar teks en konteks van mekaar geïsoleer word, word ‘n letterlike lees moontlik gemaak, maar dit is onverantwoordelike hermeneutiek.  ‘n Letterlike lees gaan van die veronderstelling uit dat die betekenis van die teks regstreeks toeganklik is.  Dit is ongelukkig nie die geval nie.  ‘n Letterlike lees hang saam met ‘n beskouing van meganiese inspirasie waar menslike betrokkenheid in die totstandkoming van die teks geminimaliseer word.  Dit reflekteer egter nie die werklikheid nie.

‘n Belangrike konsep, in ons verdere hermeneutiese oorweging, is om die funksie van die Bybelteks te verstaan en hier speel die gedagte van onvervulde historiese moontlikhede ‘n belangrike rol.[61]  Dit gaan nie net om die konteks van die teks histories noukeurig te rekonstrueer nie, maar ook om die teks se funksie te verstaan in die ontsluiting van onvervulde historiese moontlikhede.  Horsley se stelling “History went on after the historical narrative of the Torah stopped …” open die perspektief dat die leser in die huidige moment leef met ‘n toekoms waarin geskiedenis nog gemaak moet word.[62]  Dit is onvervulde toekoms met baie moontlikhede wat deur die gesigspunt van die Bybelteks belig en motiveer word.  In hierdie verband het Tom Wright ook ‘n kosbare bydrae gelewer met sy beskouing van God se handeling as ‘n groot drama wat uit vyf verskillende bedrywe bestaan.[63]  Die implikasie van sy standpunt is “We cannot reduce scripture to a set of ‘timeless truths’”[64], maar ons word uitgedaag om binne die vyfde bedryf waarbinne ons onsself bevind, self gestalte te gee aan ons lewe ooreenkomstig die parameters wat die vorige vier bedrywe stel en wat in lyn is met die laaste toneel waarvan ons reeds ‘n prentjie het.

Wat in ons poging tot ‘n verantwoordelike hermeneutiek afgewys word, is objektivisme waar die teks gelees word asof dit uit die lug geval het.  Wat die groen lig kry in ons poging tot verantwoordelike hermeneutiek, is die erkenning van die rol van menslike subjektiwiteit in die teboekstelling van die Skrif asook in die lees van die Skrif.

Voortvloeiend: wat afgewys word is een, suiwer “ortodokse” interpretasie wat bykans op ‘n statiese beskouing van die Bybel as Woord van God neerkom.  Wat die groen lig kry, is ‘n dinamiese beskouing waar die voortgaande inspirasie plaasvind deur die kerugma van God se heilsdade in Christus.

Wat voorts afgewys word is die vermenging van ideologie met die wil van God.  Ons sien dit in die ideologie van die patriargale stelsel met sy gepaardgaande beskouing van die rol en plek van vroue en kinders.[65]  Om Bybeltekste wat hierdie ideologie reflekteer normatief voor te hou as synde in ooreenstemming met God se wil vir eie konteks, is nie aanvaarbaar nie.

Wat afgewys word, is ‘n destruktiewe lees waar daar gediskrimineer word teen mense of waar mense uitgesluit word.  Die skade wat die Bybelse regverdiging van apartheid aan die Christendom in Suid-Afrika gemaak het, is vars in die geheue en daarom word daar in Elarduspark in die najaging van ‘n verantwoordelike hermeneutiek gefokus op die Bybel as welwillende en insluitende teks in die oortuiging dat hierdie benadering in lyn is met die teologie van genade wat voorop in hierdie gemeente staan.

Uiteindelik bring dit ons uit by ‘n etiek van Bybellees.  Ons wil respekvol met mense omgaan en reg aan die teks laat geskied in die oortuiging dat die waardigheid van elke mens nie net in ‘n teologie van inkarnasie sy begronding vind nie, maar in die hele heilsverhaal van God met die mens.

Snyman pleit vir ‘n kritiese hermeneutiek wanneer hy vra: “Is iets reg of navolgingswaardig net omdat dit in die Bybel voorkom?  Kan die Bybel in alle opsigte voorskriftelik wees?”.[66]  Hy gaan voort: “Die teenwoordigheid van waardes en norme in die Bybelverhale, en daargestel deur die Bybelskrywers, beteken nie dat die lesers moet aanvaar dat die Bybel ‘n onskuldige boek is en dat die leser altyd goedertrou moet wees nie.  Om by ‘n teks betrokke te wees, veral by ‘n Bybelteks wat met soveel aansprake na ‘n mens toe kom, moet ‘n leser ook ‘n mate van ‘n kritiese ingesteldheid hê, deurdat daardie elemente wat mens teen die bors stuit, blootgelê behoort te word.  Net omdat iets in die Bybel staan, beteken dit nie dat dit navolgingswaardige gedrag is nie”.[67]  Hier word veral gedink aan geweld in die Bybel soos die laaste vers van Ps 137 of Moses wat nie gestraf word vir sy moord op ‘n Egiptenaar nie, maar wel wanneer hy met sy staf teen ‘n rotswand slaan.

Die NG Kerk se amptelike besluit rakende die Bybel (Skrifgebruik en Skrifgesag)[68] werk met die vier bekende gereformeerde eienskappe van gesag, betroubaarheid, duidelikheid en voldoendheid.[69]  Interessant is egter dat die Kerkorde dit nodig vind om dadelik ook die tekortkoming of beperkinge van hierdie sake uit te wys in die verduideliking hoe dit verstaan moet word in ’n verantwoordbare hermeneutiek.  Daarvolgens word ons denkvermoë nie opgeoffer nie; is die Bybel nie ’n eksakte handboek nie; is die Bybel nie maklik om te verstaan nie en laastens gee die Bybel nie vir ons die volle kennis van die werklikheid nie.

Ten slotte oor die Bybel se gesag. 

Kan ons nog praat van die dwingende gesag van die Bybel?  Volgens Snyman glad nie.[70] ‘n Letterlike lees veronderstel dwingende gesag.  ‘n Etiese lees aanvaar gesag, maar dit is gesag wat tot stand kom wanneer beide ‘n etiek van historiese lees en ‘n etiek van verantwoording gehandhaaf word.[71]

In Snyman se beskouing word “Enige soeklig wat op die menslike element geplaas word, gesien as ’n vernietiging van Skrifgesag” en het dit “’n handige kreet geword om nuwe denke van meet af aan te diskrediteer”.[72]

’n Outoritêre gesagbeskouing binne die raamwerk van ’n letterlike lees van die teks, word gevolglik in hierdie gemeente as ’n vreemdheid beskou, terwyl daar glad nie met die gesag van die Skrif weggedoen word nie.

Smit verwys na NT Wright se beskouing oor die gesag van die Bybel “As die kerk die gesag van die Bybel bely, sê hy, bedoel hulle eintlik die gesag van die lewende God wat deur die Bybel spreek”.[73]

Ten slotte wil ons dit stel dat waarheid, Bybelse waarheid, hoog deur ons aangeslaan word.  Die sonlig van God word geensins ontken of geminag nie.  Daar word gesmag na die belewenis en ontdekking van voortdurende Sonlig wat val.  Waarheid word egter nie in absolute terme binne ’n raamwerk van ’n letterlike lees verstaan nie.  Waar die huidige konteks met die teks se konteks gelykgestel word, word die voetspoor van absolute waarheid gevolg.  Ons verkies om met relasionele waarheid te werk (nie relatiewe waarheid nie) waar die huidige ervaringswêreld en die teks se verwysingwêreld so volledig moontlik geag word.

  • Slot

Waarvan getuig bogenoemde?  Van ’n gemeente en haar leraarspan wat teologies met nuwe en kritiese nadenke hulle weg probeer vind in veranderende tye.  Wat poog om na die stemme van eietydse teoloë te luister, maar terselfdertyd begrip vir die tradisie oor eeue wil handhaaf. 

BIBLIOGRAFIE

AKLAS 2011, Agenda van die Algemene Sinode van die Nederduitste Gereformeerde Kerk.

Bailey, K.E. 2008.  Jesus Through Middle Eastern Eyes.  Cultural Studies in the Gospels.  London: SPCK.

Bevans, S.B. 2010. https://www.eiseverywhere.com/file_uploads/ff735620c88c86884c33857af8c51fde_GS2.pdf

Brenner, David G. 2015. Surrender to Love.  Discovering the Heart of Christian Spirituality. Downers Gove: InterVarsity Press.

Cole, A.H.jr. 2008. Be not anxious. Pastoral care of disquieted souls.  Grand Rapids: William B Eerdmans Publishing Co. 

Corbett, S. & Fikkert, B. 2012. When Helping HurtsHow to alleviate poverty without hurting the poor … and yourself.  Chicago: Moody Publishers.

Cronjé, Fanie. 2016.  Een geloof, een kerk en meerdere interpretasietradisies en interpretasiemoontlikhede, in Beswaarskrifte en Gravamina vir die buitengewone vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, pp616-624.

De Gruchy, J & Villa-Vicencio, C (reds), 1994. Doing Theology in Context.  South African Perspectives. Claremont: David Phillips Publishers.

Durand, J.J.F. 1978. Die Sonde.  Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal.

Holmen, M. 2010.  Church + Home.  The Proven Formula for Building Lifelong Faith.  Ventura: Regal.

Heyns, J.A. 1978. Dogmatiek.  Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal.

Horsley, R.A. 2006. The Liberation of Christmas.  The Infancy Narratives in Social Context. Oregan: Wipf & Stock Publishers.

Jones, A.H. 2015. Did God kill Jesus? New York: HarperCollins Publisher.

Louw, D. 2013. Cura Vitae: The Hermeneutics of Spiritual Healing and the Beautification of Life.  Scriptura 112:1-16.

McKnigth, S. 2011.  The King Jesus Gospel.  Grand Rapids: Zondervan.

PUNT, Jeremy. WHY NOT POSTCOLONIAL BIBLICAL CRITICISM IN (SOUTH) AFRICA: STATING THE OBVIOUS OR LOOKING FOR THE IMPOSSIBLE?. Scriptura, [S.l.], v. 91, p. 63-82, jun. 2013. ISSN 2305-445X. Available at: <http://scriptura.journals.ac.za/pub/article/view/1103/1055>. Date accessed: 21 Dec. 2016. doi:http://dx.doi.org/10.7833/91-0-1103.

Punt, J., 2015, ‘Teaching Mark through a postcolonial optic’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(1), Art. #2970, 9 pages.  http://dx.doi.org/10.4102/hts.v71i1.2970.

Rohr, R. 2017. Bias from the bottom.  https://cac.org/bias-from-the-bottom-2017-01-17/.  Gelees op 1 Februarie 2017.

Scazzero, P. 2003. The Emotionally Healthy Church. Grand Rapids: Zondervan.

Scazzero, P. 2006. Emotionally Healthy Spirituality. Nashville: Thomas Nelson.

Schreiter, R.J. 1985. Constructing local theologies. Orbis Books.

Schreiter, R.J. 2013.  local theologies in the local church: issues and methods

https://ejournals.bc.edu/ojs/index.php/ctsa/article/download/3018/2637. pp96-112.

Smit, D. 2006.  Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan. Wellington: LuxVerbi.

Smith, J.K.A. 2016. You are what you love.  The Spiritual Power of Habit. Published by Brazos Press, Div of Baker Publishing Group.

Snyman, G. 2007. Om die Bybel anders te lees. ‘n Etiek van Bybellees. Pretoria: Griffel.

Van Aarde, A. 2004. Skrifbeskouing in die lig van postmoderniteit, HTS 60 (1&2): 503-532.

Van Schoor, G. Leer leef met Jesus, 40 dae.

Wright, N.T. 2013. Scripture and the Authority of God.  How to read the Bible today. HarperCollins.

Wright, N.T. 2015. Simply Good News. Why the gospel is news and what makes it good.  Londen: SPCK.

Wright, N.T. 2016.  The Day the Revolution Began. Reconsidering the Meaning of Jesus’s Crucifixion.  New York: HarperCollins.


[1] Die bekroonde boek van prof. Vincent Brümmer, Vroom of Regsinnig?, is ’n toepaslike voorbeeld van die lang historiese spanning in die geledere van die NG Kerk.

[2] Sien bronnelys.

[3] 2015:33

[4] Sien Bevans 2010.

[5] 1994:9.

[6] 2013:105.

[7] Sien Benner, 2015: 53-68.

[8] Bailey, 2008:292-293.

[9] Die begrip humanosentriese teïsme word deur William R Jones in die Swart Teologie gebruik (vgl. Durand, 1978:102-103).  Hier word die begrip humanosentriese teologie uitsluitlik met God se antropologiese heilsfokus gebruik in onderskeid van die algemene begrip van humanisme wat God uitsluit.

[10] Sien Jeremy Punt in bronnelys.

[11] Sien Mark Holmen en James Smith in Bibliografie.

[12] 1978:28.

[13] 2007:17-20.

[14] 2007:18

[15] 2007:19

[16] Vergelyk die bronnelys.

[17] Wright,2015:5.

[18] 2011:26.

[19] 2015:113.

[20] 2013:7

[21] “Shalom denotes fullness of life” (Louw, 2013:3).

[22] Sien bronnelys.

[23] Vgl Cole, be not anxious, 2008:58-90.

[24] AKLAS, 2011:129.

[25] 2004:503.

[26] Vergelyk Van Aarde, 2004:509 in hierdie verband wanneer hy waarsku: “Die piëteit en respek vir die Bybel kan lei tot ’n “boekgodsdiens” … wat geloof in God (wat geen objek is nie) kan verplaas na geloof in die Bybel (wat objek is).  Dan ontstaan daar ’n direkte verband tussen God en Bybel …”.

[27] Snyman, 2007:104-105.   Let ook daarop dat die NGB Artikels 3-7 glad nie die term inspirasie gebruik nie.

[28] AKLAS, 2011:129.

[29] 2007:105.

[30] Vgl Fanie Cronjé, 2016:616-624.

[31] Sien byvoorbeeld Bart Ehrman, Jesus, Interrupted.  Revealing the Hidden Contradictions in the Bible, 2010.

[32] Die begrip onfeilbaarheid word nie in die NGB Artikels 3-7 uitgewerk en ook nie in die Belydenis en Orde van die NG Kerk nie.

[33] Sien Brümmer, 2013:249.

[34] Brümmer, 2013:249.

[35] 2007:106.

[36] 2007:109.

[37] 2007:188.

[38] 2007:68.  Hy toon voorts aan dat die eerste filosofiese raamwerk binne die positiwisme geskied en die tweede binne die postmoderne raamwerk funksioneer.

[39] Sien in hierdie verband, die voortgaande werking van die Gees, Van Aarde (2004:511-512) oor die sogenaamde “successive inspiration” en sirkelproses van inspirasie waar God se proses van inspirasie steeds voortgesit word.

[40] 2013:265.  Ook Brümmer se aanhaling van Thomas Lindsey is hier van toepassing: “All the reformers of the 16th century, whether Luther, Zwingli or Calvin, believed that in the Scriptures God spoke to them in the same way as He had done in earlier days to his prophets and apostles.  The Scriptures were therefore to them a personal rather than a dogmatic revelation” (2013:248) .

[41] 2004:510-513.

[42] 2004:510.

[43] 2004:511.

[44] 2015:31.

[45] 2010.

[46] Vergelyk Snyman, 2007:184.

[47] 2007:185.

[48] 2004:507ev.

[49] Van Schoor, ongedateer pp53-56.

[50] 2004:509.

[51] Vgl. Snyman, 2007:127.

[52] Sien Bibliografie.

[53]Snyman, 2007:68.

[54] Snyman, 2007:91 toon aan dat ’n geskrewe teks afstand doen van sy eie konteks: “In ’n teks word woorde sonder konteks gedruk”.

[55] Snyman, 2007:39.

[56] 2016:616ev.

[57] 2007:94.

[58] Vgl. Horsley se boek, The Liberation of Christmas, in hierdie verband.

[59] Vgl. Snyman, 2007:147.

[60] Snyman, 2007:149.

[61] Horsely, 2006:152-154.

[62] Ibid.

[63] 2013:121-127.

[64] 2013:123.

[65] Snyman, 2007:76.

[66] 2007:73. Sien ook Smit, 2006:157.  Hier word eerder gebruik gemaak van die konsep “kritiese hermeneutiek” as ’n “hermeneutiek van suspisie”.

[67] 2007:72.

[68] Die Kerkorde, 2013:113.

[69] Sien Heyns, 1978:29-35 en Smit, 2006:183-187.

[70] 2007:188.

[71] 2007:187.

[72] 2007:188.

[73] 2006:170.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui