Om te rou in grendeltyd

Hoewel mens deur jou hele lewe aan verlies blootgestel word, is om ‘n geliefde aan die dood te verloor een van die pynlikste verliese wat jy kan ervaar, en die moeilikste om te verwerk. Om te leer om aan te gaan met die lewe sonder byvoorbeeld ‘n lewensmaat van die afgelope 50+ jaar, of ‘n geliefde ouer, broer of suster, kan ‘n moeisame en pynlike proses wees. En as hierdie verlies gebeur in ‘n tyd wat reeds deur groot onsekerheid en trauma, soos ons huidige grendeltyd, gebeur, kan die proses om die verlies te leer hanteer soveel meer ingewikkeld wees.

Die rouproses

Om te rou is normaal. Dit is soos iemand wat ‘n wond opgedoen het. Soos die wond geleidelik van binne genees, is dit ook met rou die geval. Hoewel daar universele tendense onderskei kan word in hoe mense rou, bestaan daar nie ‘n resep “hoe om te rou” nie. Elkeen rou op ‘n eie unieke manier, en nie een manier is beter as ‘n ander nie. En elke individu se behoefte verskil terwyl hulle daaraan werk om die verlies te verwerk.

Routake om deur te werk

Hoewel daar nie ‘n resep daarvoor is nie, is daar tog sekere take wat deurgewerk moet word in die proses om die verlies te verwerk. Hoewel die take van mekaar onderskei kan word, kan hulle nie van mekaar geskei word nie. Hulle oorvleuel, en verloop ook nie in ‘n chronologiese volgorde nie.

Taak 1: Die realiteit van die verlies moet aanvaar en verwerk word.

Selfs wanneer die geliefde ‘n lang siekbed gehad het, gebeur dit dat mens ‘n oorweldigende gevoel van onwerklikheid beleef as die geliefde sterf. In ons huidige situasie in die grendeltyd, waar geliefdes byvoorbeeld nie in die aftreeoord of hospitaal besoek kan word nie, is hierdie gevoel van onwerklikheid soveel erger. Die eerste routaak is dus dat die werklikheid moet deurdring. Hy/sy is regtig dood! Die situasie is onomkeerbaar.

Wenke vir hierdie taak:

  • Besef ontkenning is normaal, en eintlik die natuur se manier om jou teen die skok te beskerm. Besef egter dit kan nie te lank voortduur nie.
  • Onder normale omstandighede is die teenwoordigheid van mense wat omgee deurslaggewend. In ons huidige situasie skep dit egter nog ‘n uitdaging omdat families en vriende mekaar nie vryelik kan besoek nie.
  • Hoe meer keer jy die verhaal vertel, hoe makliker sal die werklikheid insink. Weereens ‘n uitdaging in die grendeltyd.
  • Om jouself te beskerm teen die werklikheid, deur bv. nie die persoon se naam te noem nie, stel net die aanvaarding van die werklikheid uit.
  • Kry inligting rondom die omstandighede van die sterfte – waar, wanneer, hoe.
  • Dit is deel van hierdie eerste taak om die basiese dinge te doen soos mense te laat weet van die sterfte, besluite oor die begrafnis te neem, ens. Moenie toelaat dat ‘n lid van die familie hier oorneem nie.
  • Neem deeglik afskeid. In die grendeltyd is dit dikwels nie moontlik om tyd by die liggaam deur te bring nie. Daarom moet jy ander, kreatiewe maniere vind om afskeid te neem.
  • Moenie die waarde van die begrafnis of roudiens onderskat nie. Dit help om die besef van die werklikheid en finaliteit van die sterfte te laat deurdring. Die feit dat daar in die grendeltyd nie meer as 50 mense op ‘n begrafnis mag wees nie, skep weereens ‘n uitdaging waaarvoor daar unieke oplossings gevind moet word.
  • Moenie emosioneel gelaaide momente, soos om die lykswa te sien vertrek, die kis wat in die graf afsak, om die oorledene se klere uit te sorteer, ens. vermy omdat dit moeilik is nie. Dit is noodsaaklike momente in die hantering van die eerste routaak.
  • Vermy die gebruik van eufemismes, soos bv. “sy is huis toe”, “hy het die tydelike met die ewige verwissel”. Die dood van ‘n geliefde is verskriklik, en niks kan dit beter maak nie.
  • Vermy onoordeelkundige gebruik van medikasie, omdat dit die deurdringing van die werklikheid bemoeilik of selfs heeltemal onderdruk. Medikasie kan nie hartseer wegneem nie – dit kan dit net tydelik uitstel. (Dit sluit natuurlik medikasie wat deur ‘n dokter of psigiater voorgeskryf word uit).

Taak 2: Beleef die emosionele pyn van die verlies.

Die dood van iemand met wie jy ‘n hegte verhouding gehad het, raak jou intens. Emosies soos hartseer, frustrasie, woede, skuldgevoelens en magteloosheid is normaal. Baie mense is geneig om hierdie emosies te onderdruk of selfs te ontken. Die tweede taak van rou gaan dus oor die herkenning sowel as die belewing van die emosies en emosionele pyn wat gepaard gaan met die afsterwe van ‘n geliefde.

Wenke vir hierdie taak:

  • Moenie van die seer wegskram en dit probeer vermy nie.
  • Moenie jou kinders beskerm teen die aanskouing van emosies nie.
  • Onthou dat die wys van emosie nie dui op verlies aan beheer nie.
  • Die wys van emosies soos woede is nie onvanpas, soos baie mense jou sal wil wysmaak nie.
  • Die belewenis van emosies is normaal, jy is nie besig om die spoor byster te raak omdat jy dit beleef nie.
  • Praat oor die geliefde – dit help om die emosies na vore te bring.
  • Praat oor die gebeure vir dieselfde rede.
  • Onthou dat selfs onredelike skuldgevoelens en woede normaal is onder die omstandighede – al is dit nie gegrond of realisties nie.
  • Moenie verlossing en verlies verwar nie. Al is iemand gered, beleef die bedroefdes steeds ‘n verlies. Verlossing kan nooit verlies uitkanselleer nie en verlies moet betreur word.
  • Moenie medikasie neem net omdat die mense om jou ongemaklik voel met jou belewenis van jou emosies nie. Dit stel net die belewing van die seer uit en kan die proses van rou vertraag.

Taak 3: Vier die nagedagtenis van die geliefde.

Die dood kan ‘n persoon se lewe beëindig, maar nie daardie lewe tot niet maak nie. Die voortgang van daardie lewe soos jy dit ken, word gestop, maar die betekenis van daardie lewe gaan voort. Jou verhouding met die geliefde word ook nie saam met hom begrawe nie, dit leef voort in jou herinneringe. Die verhouding verander wel. Die herinneringe aan die geliefde moet openlik gedeel word.

Wenke vir hierdie taak:

  • Moenie die naam van die geliefde wat dood is, vermy nie.
  • Moenie toelaat dat die reëlings vir die begrafnis of roudiens uit jou hande geneem word, sodat jy ‘n passiewe toeskouer daarvan word nie.
  • Moenie toelaat dat die roudiens net oor dood en lewe gaan nie, maak seker dit gaan oor jou geliefde se lewe. Dit moet ook gaan oor afskeid, onthou en dankbaarheid vir die spesifieke persoon se lewe. Dit behoort ‘n gedagtenisviering te wees.
  • Deel jou herinneringe aan die geliefde met ander. Vertel van sy eienskappe, beginsels en waardes, met die klem op die betekenis van sy lewe, want dit is juis die betekenis wat voortleef.
  • Moenie daardie dinge wat jou aan jou geliefde herinner, verwyder nie. Neem die besluite wat om met persoonlike besittings van jou geliefde te doen, self, wanneer jy gereed is daarvoor.

Taak 4: Teenstrydige gevoelens moet erken en verwerk word.

Dit is nie ongewoon dat bedroefdes teenstrydige gevoelens en emosies na die dood van ‘n geliefde beleef nie. Jy kan terselfdertyd hartseer en verlig voel, veral as die geliefde lank siek was en gely het. Vir iemand wat byvoorbeeld selfdood gepleeg het, kan jy kwaad wees terwyl jy intens hartseer is.

Wenke vir hierdie taak:

  • Erken jou teenstrydige emosies.
  • Gee uiting aan jou emosies – vertel vir iemand, skryf ‘n brief, ens.
  • Praat oor beide die positiewe en negatiewe aspekte van die geliefde se lewe om ‘n gebalanseerde beeld te behou.
  • Dit is normaal om skuldig te voel as jy gevoelens van verligting ervaar as iemand sterf na ‘n lang lyding.
  • Dit is nie nodig om skuldig te voel oor jou teenstrydige gevoelens nie.
  • Dit kan soms nodig wees om die geliefde wat dood is te vergewe. Dit kan dan help om bv. ‘n brief aan hom/haar te skryf.
  • Dit kan ook soms nodig wees om jouself te vergewe oor dinge wat in die verlede gebeur het.
  • Dit is belangrik om te onthou dat vreugde en humor ook deel van jou normale emosionele leefwêreld is, en nie noodwendig afwesig hoef te wees in jou tyd van rou nie. Om soms gelukkig te voel beteken nie dat jy nie omgee nie, of dat jy nou klaar gerou is nie.

Taak 5: Neem afskeid en leef toekomsgerig.

Hierdie is ‘n langtermyn routaak. Nadat jy van die liggaam van die geliefde afskeid geneem het, moet jy ook emosioneel afskeid neem.Jy moet die emosionele energie wat jy nog aan die geliefde afstaan, geleidelik onttrek, en herbelê. Jou lewe moenie net voortgaan nie, dit moet vorentoe gaan. Jy moet aanpas by jou nuwe werklikheid, en leer om te leef in die afwesigheid van jou geliefde. Jy moet jou identiteit herontdek, en jou drome en ideale herstruktureer.

Omdat elkeen se rouproses verskil, is dit nie moontlik om ‘n tydsraamwerk te koppel aan hoe lank dit behoort te neem om hierdie routaak deur te werk nie. Die rouproses sal ook verskil na gelang van die omstandighede van die sterfte, en jou verhouding met die persoon wat dood is.

Wenke vir hierdie taak:

  • Werk daaraan om jou roetine te verander.
  • Ontdek nuwe maniere om met vriende en familie kontak te hou. In die grendeltyd is dit veral belangrik om jouself te vergewis van tegnologiese hulpmiddels om te kommunikeer deur die sosiale media, en te leer om dit te gebruik as jy nie reeds kan nie.
  • Begin om weer aan verskeie aktiwiteite deel te neem. In die grendeltyd kan hierdie ook ‘n uitdaging wees, maar dit is nie onmoontlik nie. Alle aktiwiteite hoef nie buite die huis te wees nie. Dink kreatief.
  • Skakel by aksies van jou gemeente in. Weereens, bied die grendeltyd hier groter uitdagings, maar is nie onoorkombaar nie. Die gemeente doen byvoorbeeld baie moeite om gemeentelede te betrek, byvoorbeeld die 40 dae program.
  • Raak betrokke by ‘n saak waar jy voel jy iets kan beteken.
  • Raak betrokke by nuwe verhoudings, al is dit in die kuberruim.
  • Gee jouself toestemming om nie langer te rou nie.
  • Herinner jouself daaraan dat dit normaal –  en OK – is om weer opgewonde oor die lewe te wees.
  • Moenie oorhaastig wees om groot besluite te neem nie, soos om die huis te verkoop of nader aan die kinders te verhuis nie.
  • As jy nuwe verhoudinge oorweeg, moet dit nie doen om ‘n plaasvervanger vir die oorledene te vind nie.
  • Onthou dat as jy jou smart oor jou geliefde opgee, dit nie beteken dat jy die laaste “stukkie” van jou geliefde prysgee nie.
  • Waak daarteen om ‘n smartvraat te word. As jy aanhou om die rol van die tragiese figuur te speel, sal jy sukkel om toekomsgerig te leef. As die afhandeling van die rouproses ‘n bedreiging vir jou inhou, kan jy vasval in die rouproses.

Nog praktiese wenke

Selfsorg

Terwyl jy besig is met die rouproses, is dit belangrik dat jy mooi na jouself kyk:

  • Wees kreatief om uiting te gee aan jou emosies. Skryf, skilder, maak ‘n plakboek, luister na musiek / bespeel ‘n musiekinstrument.
  • Eet, slaap en maak seker jy kry oefening sodat jy nie fisiek te moeg is om jou emosionele moegheid te hanteer nie.
  • Wees geduldig met jouself, en laat jouself toe om te voel wat jy voel.
  • Leer ken die snellers wat jou hartseer aktiveer, en berei jouself voor. Jy kan beplan om ‘n dag of twee af te neem by die werk, of jy kan jou vriende/familie vra vir ‘n bietjie ekstra ondersteuning.

Wat om te doen met daardie skuldgevoelens

Mense voel dikwels skuldig oor dinge wat hulle gedoen of gesê het, of nie gedoen of gesê het nie. Of hulle voel skuldig as hulle begin om “minder” te rou en nie meer die hele tyd aan die geliefde wat dood is, dink nie. As dit met jou die geval is, probeer die volgende:

  • Onthou dat die beste manier om iemand se lewe te vier, is om self ten volle te lewe.
  • Onthou dat om te rus ‘n belangrike komponent daarvan is om enigiets goed te doen. Atlete oefen baie hard, maar het ook rus nodig om hulle beste te lewer. Net so kan jy “beter” rou as jy soms ‘n breek neem. Laat jouself toe om vir ‘n rukkie nie aan jou geliefde te dink nie, sodat jy hom dan weer beter kan onthou.
  • Vir sommige mense kan dit help om op gereelde tye, soos ‘n sekere tyd van die dag, dag van die week, of naweek uit te sit vir ‘n dag van rou. Dan spandeer jy die hele dag / uur / naweek om aan die geliefde te dink, na foto’s te kyk, of enigiets te doen wat vir jou werk om die herinneringe aan die geliefde te vier. Dit kan jou help om deur so ‘n ritueel jou rouproses te organiseer sodat dit nie jou hele lewe oorneem nie.

Span tegnologie in om minder geïsoleerd te voel

Nie almal van ons is ewe bedrewe in die gebruik van tegnologie en sosiale media nie. As jy, veral in die grendeltyd, gekonfronteer word met ‘n verlies om te verwerk, is dit belangrik dat jy die nodige tegnologiese hulpmiddels soos ‘n slimfoon, rekenaar, of tablet aanskaf en leer om dit te gebruik. Dit sal jou selfbeeld ook sommer ‘n hupstoot gee as jy dit regkry. Wat om te doen:

  • Vra die kinders, kleinkinders of ‘n vriend om jou te help. Dit gee sommer ook geleentheid om tyd saam te spandeer, en jou aandag af te trek van die hartseer.
  • Moenie skaam wees nie, vra advies by die winkel waar jy die toerusting koop.
  • Klop by jou gemeente aan. Daar is lidmate wat graag hulle kennis sal deel, en dit as hulle bediening kan beskou om iemand “op die lug te kry”.
  • Daar is ook enterpreneurs wat ‘n geleentheid sien om verlore inkomste as gevolg van die pandemie, ‘n ekstra geldjie te verdien deur hulle kennis en vaardighede beskikbaar te stel teen ‘n billike tarief.

Om mee af te sluit:

Moenie jou hartseer vir te lank koester nie. Begin om jou toekoms te beplan, om weer ‘n produktiewe en sinvolle lewe te bou. Want, soos die skrywer Jan Glidewell gesê het: “You can clutch the past so tightly to your chest that it leaves your arms too full to embrace the present.”

Hoe om iemand te help wat in hierdie grendeltyd deur ‘n rouproses worstel

  • Moenie jou vriend vermy omdat jy nie weet wat om te sê of te doen nie.
  • Laat jou vriend toe om oor die geliefde te praat.
  • Moenie vermy om die gestorwe geliefde se naam te noem nie.
  • Vra uit oor die geliefde, en moedig hulle aan om te vertel hoe die persoon was: waarvan het hulle gehou, nie gehou nie, hulle sterk punte, swakhede, onhebbelikhede.
  • As jy vaardig is met sosiale media, help jou vriend om deur middel van sosiale media en tegnologie kontak te behou met familie en vriende, of selfs nuwe vriende te maak of by ‘n ondersteuningsnetwerk aan te sluit.
  • Om te treur is nie ‘n probleem nie; dit vra nie vir ‘n oplossing nie. Onthou dat jy jou vriend se hartseer nie kan regmaak nie, jy kan dit hoogstens bietjie beter maak.

Wat kan jy doen om dit beter te maak, al kan jy dit nie regmaak nie?

  • As ‘n been gebreek is, het dit gips daar rondom nodig om te ondersteun terwyl die been van binne herstel. Jou taak is dus om deel te wees van die gips wat ondersteun, en die behoefte om dit reg te maak te weerstaan.
  • Wees bewus van jou behoefte om dinge reg te maak, en moenie daarop reageer nie. Tel tot 10 voor jy voorstelle maak hoe om dinge reg te maak.
  • Laat haar/hom toe om haar/sy pyn te ervaar. Moedig haar/hom aan om met jou te deel hoe seer dit is, hoe moeilik dit is sonder om dit te probeer wegpraat.
  • Jy kan nie iemand se pyn genees deur dit te probeer wegvat nie. Om erkenning te gee aan die pyn, bring verligting vir die een wat die pyn ervaar. Deur die pyn te “witness”, respekteer jy die “soul’s healing resources”. En dit is al wat die een wat die pyn ervaar, sal help om daardeur te kom.
  • Die reël is eenvoudig: “Show up. Listen. Don’t fix.”
  • Jy kan nie pyn verander of wegneem nie, maar jy kan verander hoe jy daarop reageer. Laat die pyn toe. Maak dit veilig vir die persoon wat die pyn ervaar om te sê hoe seer dit is.
  • Wat van jou verwag word, is “companionship inside what hurts”. Deur nie oplossings te wil aanbied nie, kan jy dinge beter maak al kan jy dit nie regmaak nie.
  • Aanvaar dat jy sal wil wegskram van ander se pyn. Dis normaal. Maar moenie wegdraai daarvan nie. En moet ook nie van die een wat die pyn ervaar, verwag om dit te doen nie.

Wat is die konkrete dinge wat ek kan doen om dit beter te maak?

  • Moenie so bang wees jy doen die verkeerde ding, dat jy niks doen nie. Wees beskikbaar en sê iets. En as jy nie weet wat om te sê nie, vra.
  • Moenie die persoon wat treur, se hartseer met enigiets anders vergelyk nie. Vra vrae oor hoe dit vir haar/hom is. Al het jy ‘n soortgelyke ervaring gehad, dit sal nooit dieselfde wees nie.
  • Moenie feite probeer regstel nie. Laat haar/hom toe om ‘n eie ervaring te hê. Dit maak nie nou saak as haar/sy feite nie korrek is nie.
  • Moenie haar/hom laat voel haar/sy hartseer is oordrewe of buite verhouding ten opsigte van die gebeurtenis nie. Haar/sy hartseer behoort aan haar/hom, en jou opinie daaroor is nie nou belangrik nie.
  • Moenie komplimente uitdeel nie. Sy/hy wil nie nou hoor hoe ‘n sterk persoon sy/hy is nie.
  • Moenie ‘n rasieleier wees nie. Sy/hy wil nie daaraan herinner word dat alle goeie dinge nie vir altyd weg is nie.
  • Moenie nou praat oor ‘later’ nie. Sy/hy wil – of kan – nie nou aan die toekoms dink nie.
  • Moenie wat vir jou gewerk het, in haar/sy keel afdruk nie. Vra of sy/hy belangstel om te hoor wat vir jou gewerk het, dalk kan dit moontlik ook vir haar/hom werk? Respekteer haar/sy antwoord as die antwoord nee is.
  • Vra altyd toestemming voor jy advies gee. ‘n Goeie vraag is: Wil jy vandag net empatie hê, of kan ek help om ‘n plan van aksie uit te werk?

Waar kan ek meer lees oor die rouproses, of hulp kry as ek vashaak?

1 kommentaar op “Om te rou in grendeltyd

  1. Dankie, dit was baie insiggewend. My broer Louis is op 13 Julie 2019 skielik oorlede. Ek kon nie sy begrafnis bywoon. Dit was verskriklik vir my en kan nog steeds nie openhartig met my skoonsuster daaroor kommunikeer nie. Dankie weereens.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui