Gebedsmuur

God is vir ons ’n toevlug
en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid
om te help in nood. (Psalm 46:2)

Ons glo dat gebed nie meganisties werk en God se arm draai nie, maar dat gebed ‘n opregte gesprek met God is waartydens ons praat en luister. Gebed word ook ‘n gesprek tussen God en mens en mense saam, waar ons mekaar hoor en ondersteun. Ons (die geloofsgemeenskap van NG gemeente Elarduspark) bid graag saam met jou. Gebruik asseblief die kommentaar gedeeltes om jou gebede, worstelinge en dankbare lofprysings te verwoord. Ons is saam met jou op reis. (Jy moet geregistreer wees op ons webwerf om kommentaar/gebed by te kan voeg).

32 kommentare op “Gebedsmuur

  1. Psalm 10:12
    Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
    Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie.

    Here, U wat ‘n magtige God is en ons styf vashou. Mag ons in hierdie onseker tyd bewus wees dat U teenwoordig is, dat U bewus is wat gebeur.

    Psalm 10:14
    Op U verlaat die ongelukkige hom,
    ook vir die weeskind is U ’n helper.

    Mag U trane oor die gebrokenheid van hierdie wêreld ons inspireer om net soos U, die ongelukkige en weeskind te help!

    Amen.

  2. Danie-die boodskap is so bemoedigend-hoe kan ons dit op ‘n praktiese vlak toepas?Met die realiteite van covert 19 en die toename in mense wat afgesonder moet word-kan die mense wat in die gemeente opgelei is sielkundiges-narratiewe beraders ens nie saamspan om hierdie mense telefonies te bemoedig soos die behoeftes sal ontstaan.Die sielkundige inpak van so situasie kan traumaties wees.Gebed is kragtig en bemoediging sal verseker in dié situasie verligting bring…Ons moet nou die nodige voorbrand doen..Geseënde dag.

    1. Dankie Hestha, ons sal verseker dag na dag kreatief aanpas om mense te bedien, lief te hê en te ondersteun. Dankie vir jou insette!

  3. Here, vandag is dag 1 van die inperkings. Dankie dat U die son laat opkom het oor ons almal se lewens. Dankie dat ons kan lewe. Dankie dat ons U vir ons welwese in hierdie dag kan vertrou. Amen

  4. Hello daar. Lees vanoggend uit the Message Mattheus 21 vers 22b: ‘Absolutely everything, ranging from small to large, as you make it a part of your believing prayer, gets included as you lay hold of God’. Mag ons Sy Nabyheid en Liefde ook nou ervaar soos Hy Sy Hierwees ook nou aan ons bewys. Sterkte en seenwense en gebede daar.

  5. Waarnatoe?

    Ons is almal in dieselfde skip nl. Corona Virus inperking/COVID 19. Hoe gaan ons die die reis oorleef? Ek as klein besigheids eienaar sien die finansiele syfers ek is tegnies bankrot. So hoe nou verder?

    Gaan ons veg vlug of ophou lewe, val ek op my swaard en as als oor is kom ek soos n hiena terug en krap in die as en of daar iiets is om mee voor te gaan en as daar nie is nie of ek iemand kan kry wat as wil koop? Ons weet die God van Jakob sal voorsien ons weet dat ons moet vra en God sal gee. Ek glo dit maar ek weet ook dat net wag sonder aksie nie wat God wil he nie, hy wil aksie he laat jou bekommernisse by hom en gaan uit en lewe.

    Ek wil all kleinsake ondernemings vra om asb julle gedagtes en idees om te oorleef te plaas dat ons almal moontlik antwoorde kan kry en dat ons almal bid vir almal in die wereld wat deur die inperking geraak word maar dat ons bid vir die antwoorde wat bekend gemaak word dat dit volgens God wil is en dat heling in besigheid en persoon en ook ekonomie kan bring.

    1. Jaco, ek is diep bewus van die ekonomiese onsekerheid waarin ons tans lewe. Met Moody’s wat ons gedegradeer het, met die inperking (wat ook ‘n goeie ding is) wat ons ekonomie verder in die wiele ry. Ek hou ook my hart vas en slaan my hande saam. Ek wil op kyk na die berge of regering en vra waar daar hulp vir hierdie mense van ons land vandaan gaan kom? Ek weet nie hoe lyk die pad vorentoe nie. Maar ek wil bly glo dat ons hulp van die Here, wat hemel en aarde gemaak het, kom. Kom ons gesels saam met Jaco oor kreatiewe oplossings vir kleinsake handel.

    2. Here, vandag bid ek vir elke onderneming, die eienaars en werknemers. Soos in Ps 121 kyk ons op na die berge en vra: waar sal ons hulp vandaan kom? Here, ons bely dat ons hulp nog altyd van U gekom het. Help ons om te glo dat U hulp steeds en weer sal kom. Here, seën ons entrepeneurs met wysheid. Gee vir hulle antwoorde op die regte tyd deur die Heilige Gees. Amen.

  6. ‘n Mens kan maklik hoop verloor so op jou eie, daarom daag ek ook alle kleinsake-persone uit om mekaar by hierdie gebedsmuur te bemoedig.
    ‘n Vrou wat haar werk verloor het en wie se seun in die tronk is, het op ‘n dag vir my hierdie teks gelees. Sedertdien beteken dit vir my ook baie:
    Psalm 3, veral vers 6: “As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.”

  7. Vader ek ken nie die uitkoms van hierdie wêreldwye pandemie nie, maar ek ken U. U wat alles op een of ander kreatiewe wyse vir al U kinders ten goede laat eindig. Vader help ons elkeen om juis nou te oefen hoe werk daaglikse eredienste in ons huise. Mag U sien en hoor hoe al U miljoene kinders juis nou gedurig U verheerlik deur die wyse waarop ons deur hierdie storm voortbeur terwyl ons U al die eer gee en ons harte en hande oopmaak vir elkeen wat ons ondersteuning nodig het. Saam met Ps 126 weet ons dat al huil ons terwyl ons saai , ons sal juig wanneer die oes inkom. Net in Jesus se naam.

  8. Here, ek bid vir Kobus Beukes wat na ‘n hartaanval in Steve Biko se ICU lê sonder selfoon en met ‘n algehele verbod op besoeke. Ek bid veral vir sy vrou Patricia wat in die duister is oor wat nou gaan gebeur. My bede dat U Here Immanuel, God met ons, in daardie ICU sal wees! Amen

  9. Here, ons bid vanaand vir Olivia Olivier wat in die hospitaal is met ‘n hoë infeksie, waarvan die oorsaak onbekend is. Ons bid dat U haar sal toevou in U liefde en dat sy en haar gesin U teenwoordigheid sal beleef.

    Amen

  10. Ek deel vanoggend ‘n gebed waarna toe ek baie keer terug keer. Mag dit vir jou ook iets beteken.

    Ons Vader wat nêrens woon nie en orals bly
    Laat U Naam wyd en gewyd bly, hoe dit ook sy.
    Laat u Ryk ons kom en gaan bepaal;
    U nuwe wêreld ons stukkie vir stukkie kom haal
    Soos in die hemel, so ook op die aarde.
    Leer ons om een dag op ‘n slag te leef
    En vergewe ons as ons die punt mis, nes ons
    Ander vergewe wat ook die punt mis.
    Laat ons soeke nie in versoeking ontaard nie
    En ons vind nie die van die Bose wees nie.
    Want niks is soos U IS nie.
    En U is al en alles in ons wat IS.
    U IS en IS en IS
    Vir ewig en ewig
    Amen.

  11. Kobus Beukes kry DV Woensdag 22 April ‘n dubbele hartomleiding in Steve Biko. Kom ons bid vir hom en vir sy vrou, Patricia, wat hom gladnie mag besoek nie.

    1. Here ons God, ons glo dat U elkeen van ons styf vashou. Mag Kobus en sy geliefdes bewus wees van U teenwoordigheid, liefde en trou. Mag hulle elkeen U teenwoordigheid beleef in hierdie moeilik tyd. Amen.

  12. Ons Vader sal U ons assblief nou in hierdie spesiale grendeltyd help om regtig prioriteite reg te kry. Dis dalk die beste geleentheid wat ons ooit sal kry in ons lewe om uit te sorteer wat regtig belangrik is. Ons bely dat U altyd nommer 1 sal wees. Help asseblief dat ons hierna sal leef in terme van ons gemeente se doelwitte soos uit U woord gekry, Grendel asb ons selfsugtige lewensstyl eens en vir altyd. Ons vra maar net in Jesus se naam alleen.

  13. Here ek dank U dat Kobus Beukes gister ‘n suksesvolle hartoperasie (trippelomleiding) in Steve Biko ondergaan het. Dankie dat sy vrou, Patricia, toegelaat is om hom daarna vir ‘n oomblik te kon sien. Ons vertrou U Here vir sy volkome herstel. Amen.

  14. Fanie vd Westhuizen se pa, Tim (90jr) is oorlede na ‘n week in die hospitaal waar sy familie hom nie mag besoek het nie. Fanie se ma is wel die dag voor sy afsterwe toegelaat. Here, ons bid vir U vertroosting vir Fanie en Riet en ook Fanie se ma in hierdie dae.

  15. Here, dit is met skok wat ek sopas van Pieter Bouillon (54) se afsterwe vanoggend gehoor het. Ek bid dat U Here, sy ma, Breggie en sy eggenote, Marissa en die kinders in hierdie tyd in hande van genade sal dra. Amen.

  16. Here, vandag bid ek vir Llewelyn Klopper (5 maande) wat komende Donderdag 30 April ‘n ballon-prosedure ondergaan om sy aorta te probeer oop rek. Ek bid vir sy ouers, Leon en Odette, dat U vir hulle ook rustigheid en kalmte sal gee. Here, ek bid dat U hierdie kleinkind van my, wat U reeds geseënd deur ‘n eerste operasie gedra het, dit weer sal doen! Amen.

  17. Ek bid vandag vir my skoonpa, Attie Fourie (91jr), wat gister in ICU Kloof, opgeneem is met bloeding op die brein (hy het verskeie kere op sy kop geval. Hy word Vrydagoggend 1 Mei geopereer. Here, betoon hom asseblief genade, ook vir mammie (Rina 91jr) wat baie deurmekaar is oor hierdie gebeure. Amen.

  18. My seun Jurie Weidemann is in ‘n vieslike egskeiding besig. Sy eksvrou weier om hom toegang tot sy 6jarige dogtertjie te gee, ten spyte van n hofsaak wat ten gunste van Jurie toegestaan is. Bid asb dat die Here wysheid insig en vrede oor die situasie sal bring. Bid ook dat die Here die middele sal voorsien vir verdere hofsake. Sy dogtertjie het vanaand vir hom gesê dat hy haar mamma wil doodmaak. Dit nadat die eks dit ook aan hom geskreeu het. Ons harte is so seer

    1. Christa, ons bid saam met jou en jou geliefdes dat God se geregtigheid sal seëvier in die regspraak. Ons bid saam met julle dat julle bewus sal wees hoe God julle styf vashou en teenwoordig is in hierdie moeilike tye! Mag julle troos in God se geborgenheid beleef!

  19. Ons gemeente se boekhouer, Jolandie van Zyl, se pa (Hansie Lategan) gaan Maandag 11 Mei ‘n rugoperasie hier in Pretoria kry. Hy is van Hartswater se omgewing. Bid asseblief vir sy spoedige genesing, veral in hierdie tye waar pasiënte deur niemand besoek mag word nie. Bid ook vir Jolandie en Nico wat sy versorging moet waarneem.

  20. Bid asseblief vir Donaldt (en Hester) van Aardt van Sunrise View. Hy het vandag weer slegte nuus oor sy kanker ontvang. Kyk na die siekelys op die aankondigings en bid asseblief vir al ons siekes.

    1. Here, vanoggend bid ek saam met Donaldt en Hester oor die onseker pad wat hulle vir die tweede keer moet stap. Dankie vir die geloof wat Donaldt en Hester van U ontvang het. Dankie dat hulle kan glo dat U hulle styf vashou in U liefde, Dankie dat U grense oorsteek om teenwoordig te wees… dat U saam met ons reis.

  21. Here, vandag bid ek vir my kleinkind, Llewelyn Klopper, wat Dinsdag 26 Mei sy tweede hartoperasie ondergaan. Ek en Suzette plaas hom opnuut in sy hande en bid ook vir Leon en Odette. Amen.

  22. Here ek bid vir Ken Anderson wat tans chemo ontvang vir sy kankerstryd. Ek dra ook vir Belri aan U op wat gister gehoor het van haar broer, Hentie Lombaard, wie se kanker verder versprei het. Amen.

  23. Oom Cas se dogter, Elsa (55jr), is Vrydag oorlede aan kanker. Haar roudiens word komende Vrydag, 29 Mei, gehou. Here, ek bid dat U vir oom Cas en die res van die familie sal vertroos. Amen

  24. Vader ek dra graag alle Sendelinge (die wat ons ondersteun en andersins) aan U op vir hul finansiele oorlewing . Ons besef dat hulle veral in hierdie tyd die rieme baie dun moet sny vanwee beperkte inkomstes vanaf indiwidue en gemeentes. Laat asb U genade genoeg wees en hulle wonderwerk op wonderwerk beleef soos U voorsien. Gee asb geloof en hoop en liefde deur U Gees se teenwoordigheid waar hulle ookal mag nood he. Amen

  25. Baie dankie vir vanaand se Gebedsdiens saam met die Moderatuur van die kerk. Ek bid dat ons Here en Beskermer, one Parakleet, ons almal sal bewaar en by ons sal wees. Dankie vir almal wie nog steeds in hierdie moeilike tye werk toe gaan, en ons bid vir wysheid, veiligheid en vrede vir diegene wie nou teruggaan werk en skool toe. En ja, mag God Suid-Afrika, Afrika, en die hele wereld in Sy Almagtige Arms vashou, bewaar en seen. Dankie, Vader vir genade, liefde, wysheid, en seen. God bless daar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui