Lydenstyd 2021

Die week tussen Palmsondag en Paassondag staan bekend as die “Groot Lydensweek”. Gedurende hierdie week stap gelowiges in die gees die lydenspad agter Jesus aan. . Met die hoogtepunt op Goeie Vrydag en Paassondag word hierdie week as die hart van die kerklike jaar beskou. Gedurende hierdie tyd word ons uitgenooi om opnuut na te dink oor die wonder van God wat medelye met Sy skepping het, soos gesien in die lewe, lyding en opstanding van Jesus Christus

Ons gaan, aan die hand van die oudste en kortste Evangelie, die Evangelie van Markus hierdie Heilige Week dag vir dag saam met Jesus reis. Ons nooi jou uit om saam met ons die lydenspad van Jesus aan te durf en te kom ontdek wat dit vir jou vandag kan beteken.

Dienste:
Boekie:

Die week tussen Palmsondag en Paassondag staan bekend as die “Groot Lydensweek”. Dit is die mees Heiligste week in die Christelike geloof. Gedurende hierdie week stap gelowiges in die gees die lydenspad agter Jesus aan. Ons gaan hierdie week stilstaan by Markus se evangelie en ‘n dag vir dag reis saam Jesus deur sy laaste week op aarde neem. Laai hierdie boekie as ‘n reisjornaal af vir hierdie Heilige week. Jy sal sien dat elke dag ten minste ‘n teks , ‘n oordenking en iets het wat die gesin saam kan doen. Mag hierdie week vir elkeen van julle ‘n besonderse geseënde tyd wees, een waar julle opnuut bewus word van Jesus se lyding vir elkeen van ons. Mag sy passie ook ons passie word.

Stasies van die kruis:

Ons wil ook graag vir jou ‘n geleentheid gee om rustig op jou eie tyd by ons stasies van die kruis  te kom stil word. Elke stasie verteenwoordig iets wat tydens die laaste week van Jesus se lewe gebeur het. Jy kan dit op die volgende tye by die Artos- en Oinossaal kom besoek:

  • Donderdag 1 April 17:00-21:00
  •  Vrydag 2 April 08:00-17:00
  •  Sondag 4 April 08:00-17:00

Neem kennis dat ons voorsiening maak om alle Covid-regulasies in plek te hê, sodat jy veilig deur die stasies kan beweeg.

Mag jy hierdie reis, veral in hierdie besondere tyd waarin ons onsself bevind, as betekenisvol vind, sodat dit vir jou as kragbron vir ‘n nuwe toekoms kan dien.