Nikodemus, die Fariseër en Joodse leier, het
getwyfel. Hy het gewonder oor geloof. Toe gaan hy
in die nag – ‘n tyd van onsekerheid - na Jesus. Hy
wou meer weet van hierdie man wat wonderwerke
doen. Jesus nooi hom toe om die grootste
wonderwerk te beleef: Om van bo gebore te word.
Nikodemus sou gedink het ‘n mens het deel aan
God as jy die regte bloedlyn het, of as jy die regte
wette nakom. “Van bo” beteken egter God doen dit.
Hy gee Sy Gees vir jou. Om van bo gebore te word,
beteken om met leë hande vir God te sê: "Ek kan nie
self nie; doen U dit." Hy sal Homself in jou leë hande sit.