Welkom

Welkom by die gemeente wat omgee.

Mag jy hier tot rus kom in God.

Elarduspark is ‘n voorstedelike gebied wat soggens erg bedrywig kan wees.  Kinders moet by kleuterskole of die laerskool of hoërskool afgelaai word.  Volwassenes moet in druk verkeer oral in Gauteng by hulle werk uitkom (beelde van R21 en N1 bordjies).  Daar is nie tyd vir mors nie en dinge moet vinnig en effektief gedoen word.

In ‘n wêreld waar jy voel alles verander voortdurend en dinge raak almeer onseker en elke dag het ‘n ekstra kwota druk, wil ons jou graag begelei na God se hart van liefde en omgee vir elke mens.  Ons stem met Augustinus saam wat gesê het: “My siel bly onrustig totdat dit in God rus gevind het”.

In hierdie gemeente glo ons in ‘n teologie van genade waar ons groen weivelde en waters van rus in God kan vind.

In hierdie gemeente kan jy help om die wêreld ‘n beter plek te maak.

Hier gaan jy sien hoe mense bemagtig word (van uitdagings na uitkoms, van grense na brue).

Hier sien jy hoe kinders gekoester word om te groei in die liefde van God.  Hier ontdek hulle hul uniekheid as beelddraers van God (van doop tot laerskool).

Ons tieners kom elke dag onder erge druk en hulle sukkel soms om te oorleef.  Hier wil ons hulle begelei om geestelik weerbaar te wees as dissipels van Jesus ( van jeugbediening na jongwerkendes).

Manne leef in vandag se wêreld onder ekstra druk en daarom het ons spesiale geleenthede waar die manne vrymoedig hulle daaglikse laste rondom die Woord kan deel. Dieselfde geld die vroue in ons gemeenskap en ook hulle het byeenkomste waar hulle mekaar liefdevol ondersteun en bemoedig.

Hier stap ons saam deur al die fases van die lewe.

Hier verwelkom ons mense soos jy, net soos jy is, sodat jy saam met ons kan behoort aan ‘n omgeegemeenskap (van eensaamheid tot gemeenskap).

Wat jy op ‘n tipiese Sondag kan verwag…

Ons het in die skoolkwartaal twee eredienste in die oggend (8:00 en 9:45) en ‘n aanddiens om 18:00 (In skoolvakansies en oor langnaweke het ons net een oggenddiens om 9:00). Die 8:00 is meer tradisieryk met orrel en die 9:45 word begelei met ‘n orkes. Albei het dieselfde boodskap, maar die kultuur van elkeen verskil. Die 18:00 aanddienste is meer informeel en interaktief. Kom net soos jy is. Ons is gemaklik, informeel en soos ‘n familie, skep ons ruimte vir elke mense en persoonlikheid!

Wanneer jy ‘n oggenddiens bywoon

Wanneer jy by die hoofhek in Frelonstraat inkom, is die kerkgebou aan jou linkerkant. Jy kan gebruik maak van die afgemerkte parkering, of op die groot grasperk stilhou. Daar sal altyd ‘n leraar by die deur wees om jou vriendelik te ontvang.

Indien jy / julle ‘n baba het, het ons twee moederskamers. Die kleiner moederskamer (0-1 jaar) is links in by ‘n houtdeur by die hoofingang tot die kerkgebou. Dit is vir klein baba’s. Die ander groter moederskamer is agter in die kerkgebou – dus as jy deurstap sal jy die glasvensters aan jou regterkant sien. Hier kan jy ontspan en na die preek luister, terwyl jou baba of kind (1-2 en ‘n half jaar) woelig rond beweeg.

Indien julle kinders (2 en ‘n half tot 6) voor skool het, kan jy hulle voor die erediens by hulle lokale aflaai en na die diens hulle daar weer kry. Kinders van 2 en ‘n half tot 4 jaar word na die Blousaal na die Peuterkerk geneem (as jy deur die eloHim Koffiewinkel stap, net regs verby die kantoor is daar ‘n gang met ‘n groot spieël, daar regs draai is die Blousaal). Kinders van 4 tot 6 jaar word na die ou kategeslokaal geneem vir die Kleuterkerk (dit by die groot glas ingang na eloHim koffiewinkel.) In die lokale sal opgeleide kinderwerkers wees wat jou vriendelik sal ontvang.

Indien julle kinders op skool het (graad 1-6), woon hulle die eerste 5-10 minute die erediens by. Tydens die erediens het ons ‘n kindermoment waarna die kinders dan saam met hulle kinderwerkers uit die erediens stap na oorkant die grasperk na die Artos & Oinos saal. Jy kan hulle weer na die erediens daar gaan optel.

Ons nooi jou uit om na die erediens ‘n gratis koppie koffie en koekies te kom geniet deur saam te kuier en die mense uit te kyk 🙂 Indien jy graag deel wil wees van die geloofsfamilie van NG Elarduspark, kan jy na ‘n erediens aanmeld voor in die kerkruim om een van ons gasvrye Nuwe Lidmaatbediening te ontmoet. Hulle sal vir jou verder begelei met al jou vrae.